Twee kinders is in twee afsonderlike voorvalle op Helderberg-paaie raakgery.

Hoewel een met geringe beserings van die botsing af weggeloop het, veg die ander steeds om haar lewe in die hospitaal.

’n Driejarige seuntjie van Macassar is Sondagoggend (17 April) deur ’n motor in Hospitaalstraat omgery.

Volgens die plaaslike polisie het lede omstreeks 09:40 op die voorval reageer en ’n ongeluksverslag saamgestel.

Die kleinding se voog het die koerant meegedeel dat die seuntjie die pad wou oorsteek om aan die ander kant by haar aan te sluit toe die motor hom getref het. Sy sê die peuter het geskrik toe hy die kar sien aankom, maar die bestuurder van die Volkswagen Golf het gelukkig die kind gewaar en remme aangeslaan.

“Die kar het nie vinnig beweeg toe dit hom tref nie. Maar, hy is weens die slag van balans gegooi en het met die val sy kop gestamp. Benewens swelling, wat nie juis ernstig lyk nie, is hy piekfyn,” het die voog, wat al na die kind omsien vandat hy nege maande oud is, gesê.

Die kind is wel na die voorval na die hospitaal vervoer waar hy deur mediese personeel ondersoek en vir ’n paar uur gemonitor is.

Die voog sê sy tel haar seëninge, want “dinge kon soveel anders gewees het”.

’n Ander kleuter van Sir Lowry’s Pass was nie so gelukkig nie. Die vyfjarige meisietjie is Maandag (18 April) in Nieulandsweg deur ’n motor getref.

Luidens ’n polisieverslag het lede om 11:50 op die voorval reageer.

Hoewel dit onduidelik is wat tot die ongeluk gelei het, word beweer die slagoffer het saam met ’n maatjie jonger as sy na hul vriende gestap. Die meisie wou ook die besige pad oorsteek toe sy deur ’n aankomende voertuig getref is.

Sy is kort ná die voorval na ’n plaaslike hospitaal vervoer en later na Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas.

“Die kind het kopbeserings opgedoen en is hospitaal toe geneem vir mediese hulp,” het sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, gesê. “ ’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.”

DistriksPos het kontak gemaak met die meisie se ma, wat verkies het om later, wanneer haar dogter oor die ergste is, met die koerant te praat. Sy het wel gesê: “Sy doen reeds baie beter as Maandag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article