AfriForum se Helderbergkom-tak het Vrydag 19 April verskeie bewusmakingsveldtogte by plaaslike skole voortgesit.
Leerders van die Laerskool Gordonsbaai het ’n waardevolle les in brandbewustheid en -veiligheid gekry. AfriForum-verteenwoordigers het die leerders ingelig oor brandgevare en hoe hulle hulself kan beskerm in geval van ’n huisbrand.
Hulle het die studente gewys hoe om ’n brandslang te gebruik en hoe om as ’n span saam te werk om ’n brand te blus. Die leerlinge kon oefen om die brandslang te gebruik en om ’n gesimuleerde brand te blus. Dit was ’n wonderlike geleentheid vir die leerlinge om praktiese vaardighede in brandveiligheid op te doen en vertroue te kry in hul vermoë om in ’n brandnood te reageer.
Die plaaslike AfriForum-tak het ook ’n proaktiewe benadering tot padveiligheid geneem deur ’n groep kleuters op te voed oor die belangrikheid van verantwoordelike padgebruik.
Verteenwoordigers het die Helderberg Kids-kleuterskool besoek met inkleurprente, lekkernye en waardevolle inligting wat dié kinders voorts gaan help om paaie veilig te gebruik.
“Padveiligheid is ’n belangrike kwessie wat talle mense, ongeag ouderdom, geslag of sosiale status, raak. Die statistieke oor padongelukke in Suid-Afrika is kommerwekkend, en dit is ons gesamentlike verantwoordelikheid om op te tree om die aantal sterftes op ons paaie te verminder,” sê Marinda Prinsloo, jeugvoorsitter van AfriForum se Helderbergkom-tak.




