Koester elke kosbare oomblik saam met geliefdes.

’n Bedroefde mamma van Strand, wat die verskrikking van enige ouer se grootste nagmerrie deurleef het, deel hierdie boodskap in diepe rou en verdriet oor die verlies van haar geliefde peuter, Jayden. Sy deel dit van harte, met trane in haar oë, met ander ouers.

Schanel Smith steier steeds weens die skok van daardie noodlottige dag toe sy deur haar amper 14 maande oue seuntjie se skool gebel is om haar mee te deel dat hy “weg” is. Die 39-jarige ma van drie herroep dat sy uit gewoonte op Maandag 9 Desember verlede jaar met die Strandse kleuterskool kontak gemaak het om uit te vind hoe dit met haar babaseuntjie, Jayden, gaan.

Hy was reeds vyf maande aan die skool se sorg toevertrou. Smith het in terugvoer via WhatsApp ’n stemnota ontvang wat gelui het: “Haai, so ver is hy orraait; nie klagtes nie. Hy is heel oukei sover, hoor jy.” En minder as twee ure ná die boodskap wat veronderstel was om haar moederhart gerus te stel, het sy die oproep ontvang wat haar lewe tot stilstand geruk en haar met ’n onbeskryflike, ondraaglike hartseer oorweldig het.

“Ek onthou nie veel van dié dag ná die skokkende nuus nie; alles is soort van ’n blur. Ek weet nie hoe ek by die skooltjie uitgekom het; ek weet net my baas was daar en ek het my kind se lyk, wat van kop tot tone potblou was, aangetref,” het ’n emosiebelaaide Smith, steeds in die oorheersende skok wat haar skynbaar in ’n greep het, vertel.

“Ek kan die verskriklike werklikheid net nie glo nie.”

Volgens Smith het skoolpersoneel aan haar verduidelik dat haar bondeltjie vreugde net ophou asemhaal het. Hy is glo neergelê om te slaap voordat hulle later ontdek het dat hy beswyk het.

“Ek slaap nie, ek eet nie, en ek wil weet hoekom my kind dood is. Hy was ’n spekvet, gesonde babatjie,” het sy bygevoeg.

Smith het voorts die soete herinneringe van ’n uitstappie na die strand, wat roomys saam met haar bulletjie by ’n gewilde kuslangse roomyswinkel ingesluit het, herroep. “Kyk hoe lekker eet hy sy icecreampies; daar was absoluut niks fout met my kind nie, soos jy kan sien,” het sy gesê terwyl sy ’n video deel wat wys hoe die kleinding aan die heerlike bevrore lekkerny smul tydens die uitstappie wat hulle die Saterdag (7 Desember) voor sy dood geniet het.

Die Strand-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen ná die voorval waarop beamptes om 15:27 gereageer het.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se woordvoerder, Bronagh Hammond, het by navraag gesê hulle kan nie nou al op die voorval kommentaar lewer nie, “aangesien ons nie (daarvan) bewus was nie en ondersoek moet instel”.

Hammond het verder bevestig dat die fasiliteit nie geregistreer is nie, hoewel ’n aansoek vir registrasie op Donderdag 5 Desember verlede jaar ingedien is en nog in die evaluasiefase is.

“Die departement sal ondersoek instel om voldoening by die fasiliteit te verseker ingevolge die Nasionale Norme en Standaarde vir gedeeltelike- sorgfasiliteite,” het Hammond gesê.

By verdere navraag het Hammond verduidelik waar meer as ses kinders by ’n fasiliteit ingeskryf is, moet die fasiliteit by die WKOD geregistreer wees, en word daar verwag dat minstens een personeellid noodhulpbevoegdheid moet hê.

Hammond het bevestig dat hierdie fasiliteit, volgens die aansoek wat ingedien is, vyf praktisyns met 31 kinders het. Die ouderdomsgroep van geboorte tot 18 maande het ’n 5/1-kind-tot-praktisyn-verhouding, wat in ooreenstemming is met die Nasionale Norme en Standaarde vir gedeeltelike-sorg-fasiliteite.

“Maatskaplike sektororganisasies voer besoeke by geregistreerde en ongeregistreerde fasiliteite uit. Ingevolge die Kindersorgwet moet twee besoeke per jaar uitgevoer word,” het Hammond genoem.

Sy het verder namens die departement hul innige meegevoel met die ouers en familie uitgespreek.

“Ons departement sal die ongeregistreerde fasiliteit ondersoek om te verseker dat die fasiliteit voldoende stelsels en maatreëls in plek stel om die veiligheid en beskerming van alle kinders by die fasiliteit te verseker.”

DistriksPos & Helderberg Gazette het die kleuterskool genader oor die voorval, wat die tweede soortgelyke geval by die fasiliteit is (“Tragedies at two Helderberg crèches, 29 Julie 2021”), maar die skoolhoof het meegedeel dat sy nie in hierdie stadium kommentaar kan lewer nie. Sy het wel gesê dat die skool niks het om weg te steek nie, en sy en haar skoolpersoneel is ook erg deur die tragedie getraumatiseer.

Hoewel Smith met talle onbeantwoorde vrae worstel, vind sy troos in die Godgegewe seëning van ’n gelukkige, liefdevolle baba wat aan haar geleen is. “Hy was net so happy. Hy het altyd gelag en gehou van eet. Hy was ook ondeund. Hy het jou daardie kenmerkende kyk en glimlag gegee, en dan weet jy hier kom nonsens. As jy net vir ’n paar minute bietjie alleentyd wou hê, kon jy net die Moana-liedjie, ‘We know the way’ speel, want hy kon aldag en heeldag daarna sit en luister,” het Smith met ’n vinnige terugblik, wat ’n hemelsbreë glimlag op haar gesig gesit het, onthou.

Sy sal veral die prentjie van die vriendelike sonskynkind onthou wat dikwels met ’n hartverwarmende glimlag en cheddar-koekie in die hand gewaar kon word, en sy onvoorwaarde­like liefde wat hy in die vorm van soentjies en drukkies gedeel het.

“Hy laat ’n groot leemte. Sy sibbe mis hom; ek mis hom,” het sy gesê.

’n Gedenkdiens vir Jayden is op Vrydag 13 Desember by Blue Crane Funerals gehou voordat hy veras is. Hy word oorleef deur sy ma, Schanel, sy pa (51) en vier sibbe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article