’n Beroep word op Helderbergers gedoen om hul harte in hul sakke te steek ten bate van ’n plaaslike moeder-“hen” wat ongewenste babas onder die vlerk neem en gedurende die pleegsorgproses ’n tydelik tuiste bied.
Die 43-jarige onbaatsugtige ma van vier bedryf ’n huis van veiligheid bekend as Tiny Feet Baby Safehouse en openbaar haar tuiste en gesin se harte aan verlate, mishandelde, verwaarloosde en siek babas wat hulle om verskeie redes in die pleegsorgstelsel vind. Die weldoener is in haar persoonlike hoedanigheid by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer. Haar organisasie sonder winsoogmerk is nie ’n kinder- en jeugsorgsentrum nie, wat beteken hoewel sy haar hart aan ’n onbeperkte aantal kleingoed kan openbaar, mag sy volgens wet slegs ses op ’n keer huisves.
“As ’n vrywillige plek van veiligheid streef ons daarna om liefde en sorg te bied aan hierdie kwesbare klein mensies, wat uit verskeie omstandighede aan ons toevertrou is. Ons babas kom uit verskillende agtergronde, insluitend dié wat in hospitale agtergelaat is, babas wat beskikbaar is vir aanneming en babas wat mishandel of verwaarloos is en deur die polisie of maatskaplike werkers uit hul huise verwyder moes word,” sê sy.
Die stigter van Tiny Feet Baby Safehouse sê voorts sy het die organisasie uit vurige passie vir kinderlyfies op die been gebring. Sy het haar roeping vir dié werk in 2018 in Pretoria begin en sedert verlede November in die Kom voortgesit. “Ek wou eintlik ’n huis vir ongehude moeders bied, maar hierdie het oor my pad gekom,” voeg sy by.
Die bewonderenswaardige verskilmaker spog met ’n “wonderlike man” wat sy onwrikbare ondersteuning bied en vier van haar eie kinders – tweelingseuns wat mondig word, ’n middelkind wat volgende jaar sy matriekjaar aanpak en ’n laatlammetjie wat in Graad 3 is. Omdat almal seuns is, bieg sy oor haar opgewondenheid wanneer owerhede bel oor ’n dogtertjie wat ’n liefdevolle blyplek benodig. “Maar ek sê nie nee vir die seuntjies nie; ek is net so lief vir hulle. My hart klop vir babatjies, en enigiets wat babatjies betref. Moenie hulle seermaak nie, want ek kan dit nie hanteer nie.”
Tiny Feet Baby Safehouse bied ’n plek van veiligheid vir babas van geboorte tot een jaar; dit beteken egter nie dat ’n baba uit haar sorg verwyder moet word wanneer hy of sy ouer word en nog nie ’n tuiste het of deur die pleegsorgproses is nie. Tans is die plek van veiligheid ’n tuiste vir drie liefielyfies – twee meisietjies van ses weke en ses maande, en ’n seuntjie van sewe maande. Al drie babas het hulle in die sorg van Tiny Feet Baby Safehouse bevind nadat hulle ná geboorte by die hospitaal agtergelaat is.
Benewens die gewaardeerde hulp van haar man, wat snags saam opstaan, vir die kleintjies sorg en trane stort wanneer hulle huise vind, het die versorger met haar natuurlike talent, betekenis gegee aan die woord liefde en ook die ondersteuning van haar 65-jarige ma en vriendinne wat dikwels ’n helpende hand verleen. Met DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek aan die organisasie verlede Woensdag (11 Oktober) was een van hulle teenwoordig en het namiddag-speeltyd ingespan. “Wanneer ek ’n kansie het, val ek hier in, en ná elke besoek loop ek hier weg met my hart vol en met hernude energie vir die dag – dít alles deur hulle net ’n bietjie vas te hou en liefde te gee,” sê die vriendin.
Sy het bygevoeg haar geliefde vriendin is ’n engel van ’n mens wat veg en omgee vir die babas asof hulle haar eie is.
“Ek het nog nooit iemand ontmoet met ’n hart soos sy wat sy vir hierdie kinders het nie. Jy kan altyd hier aankom en daar is altyd vrede; altyd ’n klamte in haar huis. Ek het al die babas hier sien aankom en binne twee weke sien jy die verskil op hul gesiggies. Jy sal nooit die kinders hoor huil nie. Hierdie vrou sal alles gee vir hierdie kinders. Sy is ’n opregte mens en hierdie klomp is gelukkig om haar in hul lewe te kan hê.”
Volgens die stigter is dit goed vir om te weet wat hulle doen, maak ’n daadwerklike verskil.
“Ons pogings het die lewe van baie individue en gesinne geraak, maar daar is nog baie werk om te doen. Om ons waardevolle werk voort te sit, het ons die ondersteuning en betrokkenheid van ons plaaslike gemeenskap nodig,” sê sy.
Belangstellendes kan betrokke raak deur bewustheid, steun, skenkings asook geldelike bydraes om Tiny Feet Baby Safehouse se saak te bevorder.
Van die goed op hul behoeftelys is poeiermelk (Novalac 1, Novalac AR, Infacare 1), Purity-pap, weggooidoeke (Pampers en Huggies van geboorte tot nr. 4-grote), Epimax-lyfwas en -room, sjampoe, watte en wet wipes, babaklere (van tiny baby tot 12 maande), enige gebruikte babaprodukte soos stootwaentjies (veral Doona), kampbedjies en speelgoed.
Skakel 061 892 3048 om te help.



