Die week is op ’n somber noot in die Helderberg afgesluit nadat ’n fetus in die gemeenskap ontdek is.
Die babalykie is Paasmaandag (18 April) in ’n kanaal in Sir Lowry’s Pass gevind. Die gruvonds volg slegs dae nadat die Helderberg Baby Saver weer nuushooftrekke gehaal het vir nog ’n pienkvoet wat danksy die bestaan van die spesiale babakluis ’n kans op die lewe geskenk is.
Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het beamptes Maandag omstreeks 10:00 op die voorval gereageer nadat kinders, wat in die omgewing gespeel het, op die fetus afgekom en plaaslike buurtwaglede ingelig het.
Jantjies het gesê die liggaampie wat soos dié van ’n fetus met ’n swangerskapouderdom van sowat sewe maande lyk, is deur die polisiebeamptes aangetref.
Met DistriksPos se aankoms op die toneel het ’n skare by die afgesperde kanaal tussen Nieulandweg en Octoberstraat saamgedrom. Terwyl die plaaslike polisie se forensies kundiges die toneel behulp van nooddienspersoneel gefynkam het, het omstanders hul skok en ongeloof weens die tragedie uitgespreek.
“Dis skokkend wat vandag hier in ons gemeenskap gebeur,” het een hardop aan die ander gesê.
“Dit lyk asof die babadogtertjie kort ná die geboorte gedump is; asof die kind met vrugvliese aangetref is,” het nog een bespiegel.
“Hoe raak enigiemand, vernaam ’n moeder, só van haar kind ontslae? Die kind was dan ’n volgroeide baba met ’n popgesiggie, beentjies, voetjies, armpies en handjies,” het ’n omstander nes talle ander gevra.
Jantjies het bevestig niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
“Die identiteit van die verdagte is steeds onbekend,” het sy aangevoer. “ ’n Saak van verberging van geboorte word ondersoek.”
V
Die polisie het ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting om die ondersoekbeampte, speur-AO Nolan Fischer, by 021 850 1344 te bel.



