Strand-boorling Elzana October lewer Woensdag (9 Augustus) ’n poësievoordrag by die Kunstekaap se jaarlikse Women’s Humanity Festival. Foto: Rick Marais


’n Boorling van die Strand wat bekend staan as die “Moeder van die Sand” en wat ook ’n welbekende digter is, gaan in Augustus-maand ’n groot lewensdroom verwesenlik wanneer sy as deel van die Vrouemaand-vieringe by die Kunstekaap in Kaapstad op Vrouedag (Woensdag 9 Augustus) ’n poësievoordrag gaan lewer.

Elzana October (41) is vreeslik opgewonde om by die Kunstekaap se jaarlikse Women’s Humanity Festival op te tree.

“Ek het altyd iewers in my lewe ’n gaping gehad. Ek was net ’n vrou, ’n doodgewone kleurling, maar ek het glad nie my kultuur geken nie. Totdat ek begin delf het in my kultuur en daaruit is ‘Moeder van die Sand’ gebore. Ek het begin skryf en dit was wat ek beskryf as ’n bo-natuurlike ervaring. Ek skryf van ’n tyd dat ek nie geleef het nie, ’n tyd wat ek geen ervaring van het nie,” sê October.

Maar toe sy begin gedigte skryf was dit asof als in plek val en die heelal vir haar terug antwoord en haar aanmoedig om aan te hou met skryf. Sy het onlangs die nuus ontvang dat sy een van haar gedigte gaan kan voorlees by die Kunstekaap-vieringe.

Sy reik juis uit na vroue in haar gedig want volgens haar word vroue onderdruk.

“Daar is so ’n ernstigheid aan my gedig. Ek gaan uit en ek sien vroue loop en hulle kleef vas aan hul handsakke. Hulle word neergedruk en dis juis hoekom die gedig en die Kunstekaap se fees so belangrik is,” vertel sy.

Volgens haar word die Kunstekaap se jaarlikse Women’s Humanity Festival, geïnspireer deur 20 000 vroue wat in 1956 besluit het genoeg is genoeg, en hulle het gestap na die Uniegeboue in Pretoria en hulle uitgespreek teen al die onderdrukkings van daardie tyd teen vroue.

Dit stop egter nie net daar nie, nee, op 18 en 19 Oktober is Elzana ook genooi om deel te neem aan ’n Top Women Conference wat aangebied word deur Standard Bank.

“Ek wil vroue aanmoedig en hulle herinner dat hulle stemme het. Hulle tel en is belangrik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article