Amptenare van die Stad Kaapstad sê hulle is nie verantwoordelik vir boumateriaal nie nadat desperate Kersdag-brandslagoffers verlede Woensdag (18 Februarie) die strate van Sir Lowry’s Pass met protesaksie ingevaar het.
Hulle het omstreeks 05:00 op die hoek van Sir Lowry’s Pass-pad en Mandelalaan vergader, waar hulle die verkeer ontwrig het deur bande aan die brand te steek, maar owerhede het die betoging stopgesit en die pad teen 08:00 skoongemaak.

Dié inwoners is steeds haweloos ná die brand wat op Kersdag (Donderdag
25 Desember) by Mataungstraat 799 uitgebreek het en waar vyf strukture vernietig en 30 mense haweloos gelaat is.
Furzel Bitterbosch, een van die brandslagoffers, beweer ná die brand het die Stad die inwoners belowe hulle sal boumateriaal ontvang om hul strukture te herbou. Maar, twee maande later het hulle steeds niks ontvang nie en as gevolg hiervan het die inwoners besluit om ‘n betoging te hou omdat hulle voel die Stad het hulle gefaal.
“Hoekom kan julle nie die mense help nie? Het julle nie harte nie?” vra Valrie Mentoor, wat vir die vyf huisgesinne vesting op haar erf gegee het, gefrustreerd. “Jirre, hulle soek nie ‘n dubbelverdiepinghuis nie; hulle vra net vir ‘n klein plekkietjie.”

Haar seun Rayn Mentoor sê hy is desperaat vir die materiaal omdat sy gesin van vier van rusbank tot rusbank moet beweeg as gevolg van die brand waarin hulle alles verloor het.
Petrolene “Sister Lee” Alberts, ‘n gemeenskapsleier in Sir Lowry’s Pass, beweer sy en die inwoners vra al sedert die dag van die brand bystand vir die slagoffers. “Ná gister (Dinsdag 18 Februarie) het hulle besluit genoeg is genoeg,” sê Alberts.
Bitterbosch het destyds beweer ‘n vrou het die brand gestig. “Die meisiekind aan die ander kant sing ‘Let it burn’ en sy soek olie,” het die 52-jarige vertel.

Die Somerset-Wes-polisie ondersoek ‘n saak van brandstigting. ‘n Vrou (22) is in hegtenis geneem en sal op Maandag 30 Maart weer in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Die betogers het bygevoeg hulle het by die wyk-84-raadslid Norman McFarlane aangeklop vir hulp, maar is van die hand gewys.
“Hy sê sy hande is afgekap; nou staan hy eenkant. So, wat doen ons nou?” vra Bitterbosch.
McFarlane het verduidelik dit is nie onder sy beheer om die wonings te vervang nie en ontken die Stad het ooit boumateriaal belowe.
McFarlane en die Stad se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, die raadslid Carl Pophaim, het bevestig die nasionale departement van menslike nedersettings is verantwoordelik om die inwoners met boumateriaal te help.
Pophaim het verduidelik die Stad het die nodige inligting van die brand aan die nasionale departement voorgelê sodat hulle kan oorweeg om boumateriaal aan die betrokke huishoudings te voorsien.
Maar Tsekiso Machike, ‘n woordvoerder vir die nasionale departement van menslike nedersettings, het egter bevestig hulle dra geen kennis van die voorval nie.
“In die gees van samewerking en interregeringsverhoudinge sal ons met die Stad in verbinding tree om die status van die saak te bepaal,” het hy gesê.
Machike het bygevoeg sy departement sal ingryp indien die situasie dit vereis.





You must be logged in to post a comment.