Ouers van kinders in die Kaapse metropool word versoek om aktiewe stappe te neem om hul jongelinge te beskerm aangesien die jaarlikse seisoen vir kinderdiarree en longontsteking aanbreek.
Die Stad Kaapstad se gesondheidsdepartment het ouers aangespoor om versigtig te wees en voorsorg te tref om te voorkom dat die getalle toeneem en om lewens te red deur kinders te beskerm gedurende die hoërisikoseisoen vir die infeksies, wat van November tot Mei volgende jaar strek.
Alhoewel daar ’n afname in die aantal jong kinders wat aan diarree-siekte beswyk, het die gevalle vir die afgelope twee seisoene konstant gebly.
Tussen verlede November en Mei vanjaar is 12 995 gevalle van diarree by kinders onder vyf in die metro aangemeld, vergeleke met 12 275 die vorige jaar. Longontstekinggevalle het egter ’n effense afname getoon, van 12 592 in 2022-’23, tot 11 759 in 2023-’24.
In die 12 maande van 1 Julie 2023 tot 30 Junie 2024 het 15 kinders weens diarree gesterf.
“Daar is groot vordering gemaak van waar ons ’n dekade gelede was, maar hierdie statistieke beklemtoon die behoefte aan voortdurende waaksaamheid, voorkomende aksies, vroeë toegang tot sorg, en vroeë behandeling om komplikasies van hierdie siektes te verminder,” het Patricia van der Ross, die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, gesê.
Van der Ross het versorgers van kinders gevra om bedag te wees op tekens van diarree en longontsteking vir vroeë opsporing, aangesien dié infeksies steeds die hoofoorsake van ernstige siekte en dood by kinders onder vyf bly.
Die spesifieke gevaartekens sluit in asemhalingsprobleme of vinnige asemhaling; aanhoudende koors of ’n hoë temperatuur; tekens van dehidrasie (droë mond, geen trane wanneer die kind huil, of ingesonke oë); stuiptrekkings of aanvalle; en onresponsiwiteit of lusteloosheid.
As kinders enige van hierdie simptome toon, word ouers en versorgers aangemoedig om dringend hulp by ’n gesondheidsfasiliteit te soek. Benewens hierdie tekens, moet volwassenes ook bewus wees van algemene simptome van die infeksies. Die simptome van diarree is gereelde waterige stoelgange; droë mond; geen trane wanneer die kind huil; en ’n afname in aktiwiteit of waaksaamheid.
Die simptome van longontsteking is vinnige of moeilike asemhaling; koors; aanhoudende hoes; en borsintrekking (wanneer die kind se bors intrek met elke asemteug).
“Die gesondheidsdepartement en sy vennote bly verbind tot die ondersteuning van gesinne gedurende hierdie uitdagende tydperk. Vroeë herkenning van simptome, voorkomende higiëne en tydige inentings is die beste verdediging wat ons het,” het Van der Ross gesê.
Gemeenskapsuitreikprogramme sal voortgaan om gesinne oor die metro heen te bereik, en ouers en versorgers te voorsien van noodsaaklike inligting oor die voorkomende maatreëls.
Goeie higiënepraktyke speel ’n belangrike rol in die vermindering van infeksies, het die departement bygevoeg, daarom is dit belangrik vir alle familielede om hul hande deeglik met seep en water te was, veral voor etes, na die gebruik van die badkamer, en na die versorging van ’n siek kind.
Behoorlike sanitasie is ook ’n infeksieverminderings tegniek – deur kinders se speelareas en eetgerei skoon te hou, sowel as om afval behoorlik weg te gooi om kontaminasie risiko’s te verminder.
Inenting is nog ’n noodsaaklike voorkomende maatreël; die departement moedig alle ouers aan om seker te maak dat hul kinders op datum is met hul inentings.
Besoek jou naaste kliniek vir meer inligting of om ’n inentingsafspraak te skeduleer.




