’n Familie wat op moedverloor se vlakte was nadat hul huis afgebrand het, was tydelik weer hoopvol voordat hulle uitgevind het hulle sal glad nie hul huis kan herbou nie.
’n Brand wat Saterdag 29 April in Kays-woonwapark in Strand uitgebreek het, het ’n familie van 14 letterlik met net die klere aan hul lyf gelaat. Wetstoepassers, verkeersbeamptes, veiligheidsbeamptes en lede van Afriforum Strand Patrol het kort ná 13:30 ingespring om te probeer help, maar dit was tevergeefs. Ses informele strukture, ’n woonwa en ’n motor is in die brand vernietig (“Familie verloor alles; pleit nou om hulp,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 10 Mei).
Miguel de Allende (75), sy vrou, Lorna, en sy twee seuns, Domingo en Albert het 23 jaar gelede hul woning in Kays-woonwapark opgerig.
Domingo en Albert se gesinne het almal saam met Miguel en Lorna in die woning gebly totdat ’n brand die De Allende’s van alles beroof het, maar nou mag die gesin glo nie herbou nie.
Albert, wat tans saam met sy ma en pa, sy vrou en hul twee honde in ’n klein 5 x 3-meter-kamer woon, het die afgelope naweek gehoor hulle moet Kays-woonwapark teen die einde van Junie ontruim.
“Ons word van bakboord na stuurboord gestuur. Eers kon ons herbou, maar ons sou net boumateriaal wat brandbestand is moes gebruik. Nou mag ons glad nie meer herbou nie en moet ons teen die einde van Junie ’n ander heenkome soek,” sê Albert.
Destyds, toe die gesin se huis afgebrand het, het hul huurgeld wat in die huis was saam met die huis afgebrand en die familie het by verskillende mense in die woonwapark gaan bly.
“My naam is Miguel de Allende. Ek is van plot 91 en 92. Kan ons begin skoonmaak op die plot? Kan ons herbou? Ons het iemand wat vir ons ’n Nutec-huis kan bou,” het Miguel die eienaars van Kays onlangs gevra.
Die antwoord wat hy ontvang het, het die familie egter bekommerd gemaak.
Die familie is glo deur Lana Strumpfer, die eienaar van Kays-woonwapark, ingelig dat hulle nie kan herbou nie uit vrees dat so ’n brand weer kan uitbreek.
“Julle gaan nie weer kan herbou nie. Ons gaan nie dat mense weer hier herbou nie. Dis net te veel verdriet en te veel verwoesting. Ons gaan bou met ’n produk wat nie ’n permanente struktuur is nie en wat nie kan brand nie. Julle gaan vir julle ander verblyf moet kry asseblief,” was Strumpfer se stemboodskap op WhatsApp aan die De Allendes.
“Hulle sal nie kan herbou nie. Hul huis was uitgebrei en by tye is tussen 12 en 16 mense in daardie huis gehuisves sonder ons kennis. Tans bly die familie gratis in twee van ons selfsorg-eenhede,” sê sy.



