Altesaam 21 mense is dakloos gelaat nadat ses informele strukture in die Kays-woonwapark in Strand afgebrand het.

Credit: SYSTEM

“Dit lyk of daar weer ’n brand is. Ons sien die rook. Dit lyk of daar weer ’n brand is by Kays!”

Dié woorde is Saterdag (29 April) oor handradio’s van Afriforum Strand Patrol geuiter voordat lede uitgestuur is na ’n brand wat omstreeks 13:30 by die Kays-woonwapark in Strand uitgebreek het.

Die brand volg amper presies ’n maand nadat twee huishoudings genoop is om hul lewe te herbou nadat ’n verwoestende brand Donderdag 30 Maart by dieselfde woonwapark uitgebreek, hul tuistes vernietig en al hul besittings geëis het (“Hulp stroom in”, 5 April, DistriksPos & Helderberg Gazette).

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het bevestig ses informele strukture, ’n woonwa en ’n motorvoertuig is in Saterdag se brand vernietig.

“Een-en-twintig mense is dakloos gelaat en ’n man en ’n vrou is albei behandel nadat hulle gesukkel het om asem te haal,” het Carelse gesê.

K.C. Gericke, die veiligheidsvoorsitter van Strand Patrol, sê een van Strand Patrol se jeuglede se huis het afgebrand.

“Die jongman woon by sy ma en pa in die huis. Sy oupa en ouma woon langs hulle. Kort nadat ek die radio-boodskap ontvang het, is van ons jeuglede te voet na die toneel. Ek het een van die lede opgelaai en kort daarna is ek ingelig twee wonings is aan die brand. Ek het toe die brandweer ’n tweede keer gebel,” voeg Gericke by.

Die brandweer het bevestig hulle stuur hulp en almal – wetstoepassers, verkeersbeamptes en lede van verskeie veiligheidsmaatskappye het saam toegesak om te help.

“Die ouers was nie by die huis ten tyde van die brand nie. ’n Gasbottel het ontplof. Teen 14:30 was al die vlamme in bedwang. Ons het daarna begin om klere en ander goed in te samel vir die mense wat als verloor het. Ons het so baie skenkings gekry. Ons wil almal wat gehelp het, innig bedank” sê hy.

Carelse het bevestig die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article