Die Macassar-polisie het verlede week afskeid geneem van ’n formidabele vrou in blou wat haar die afgelope vier dekades met toewyding en passie aan haar roeping gewy het.
“Dit voel bevredigend, asof daar ’n gevoel van suksesvolle voltooiing is. ‘It is done’, soos Liewe Jesus op die kruis gesê het. Ek het my alles gegee; my doel gedien vir die samelewing,” het kapt. Estelle Hutton, wat Vrydag (28 Junie) haar laaste dag as ondersteuningsbevelvoerder vir die plaaslike polisiekantoor gewerk het, gesê.
Dié einde van ’n merkwaardige tydvak, wat verlede Donderdag in die samesyn van kollegas en werkskennisse gevier is, val saam met nog ’n mylpaal wat dié pligsgetroue polisievrou die afgelope maand herdenk het. Hutton het haar 60ste verjaardag op 9 Junie gevier, en hoewel die rustiger goue jare van aftrede lok, beloof sy om steeds haar deel te doen.
Hierdie keer sal haar fokus egter op die jeug wees. Sy hoop om saam met organisasies sonder winsoogmerk te werk en as voorbeeld van iemand wat teen alles bo hul omstandighede uitgestyg het, te verhoed dat jongelinge in verkeerde dinge verval.
Hutton is in Bishop Lavis gebore en het op 12-jarige ouderdom as tweede jongste van sewe kinders saam met haar ouers, Peter en France Fortune, na Macassar verhuis. Sy het haar laerskoolloopbaan in die plaaslike gemeenskap voortgesit en was later een van die eerste leerders wat by die nuutgeboude Hoërskool Macassar aangesluit het.
Hutton het nog altyd daarvan gedroom om ’n polisiebeampte te word wat op kantoor raakvat en haar strewe was nie sonder struikelblokke nie. Nadat sy haar gr. 11 gedruip het, het haar ouers haar ingeskryf om ’n sekretariële kursus in Bellville te voltooi. Sy was een van talle studente wat van die Firgrove-treinstasie na hul huise in Macassar gestap het. Nadat sy die kursus voltooi het, het sy ’n werksgeleentheid by die destydse OK Bazaar in Somerset-Wes aanvaar.
Verskillende poste oral
Sy het egter ook aansoek gedoen om ’n pos by die Macassar-polisiekantoor, waar sy uiteindelik in 1984 aangestel is. “Kaptein Wilson en sersant Adonis (wat later as brigadier afgetree het) het my op 8 Januarie persoonlik van my suksesvolle aanstelling in kennis gestel. Gevolglik het ek onmiddellik my bedanking by OK Bazaar ingedien,” vertel Hutton, wat as tikster by die polisiekantoor begin het en later tot die administrasieafdeling bevorder is.
Hutton het haar trots uitgespreek oor die feit dat sy nie teruggesit het nie en geleenthede met albei hande aangegryp het.
Sy het verder gestudeer en nie net haar matrieksertifikaat verwerf nie, maar ook haar basiese polisie-opleiding in Oudtshoorn voltooi en ’n diploma in menslikehulpbronbestuur bekom.
Sy is ná 15 jaar as ’n administratiewe bate by Macassar na die Kleinvlei-polisiekantoor oorgeplaas, waar sy 13 jaar in dieselfde rol uitgeblink het voordat sy na die plaaslike polisiekantoor as bestuurder vir menslike hulpbronne teruggekeer het. Hutton het verder die leer tot sukses met die rang van kaptein in Worcester geklim met haar aanstelling as senior personeelpraktisyn. Ná byna drie jaar in menslikehulpbronbestuur het sy weer haar weg na Macassar gevind, waar sy tot haar aftrede as ondersteuningsbevelvoerder gewerk het.
Benewens administratiewe pligte, het Hutton ook sigbare polisiëring bevorder deur patrollies in hoërisikogebiede en bewusmakingsinisiatiewe in noue samewerking met verskeie jeug- en gemeenskapsorganisasies, insluitend die Gemeenskapspolisiëringsforum, aan te pak. Sy het ook met ywerigheid en bekwaamheid ingestaan as stasiebevelvoerder in die afwesigheid van bevelvoerder-kollegas by Macassar.
Met talle medaljes vereer
Hutton het oor die afgelope 40 jaar in die polisiediens verskeie medaljes ingeryg: ’n Herdenkingsmedalje (2005), 20 jaar diens (2005), sokkerwêreldbeker (2012), en 30 jaar diens (2015). Sy hoop om binnekort vir 40 jaar van toewyding vereer te word.
Hutton verklap dat sy inspirasie geput het uit baanbrekers soos brigadier Dottie Adonis, wat as bruin vrou in ’n manswêreld sukses behaal het. Hoogtepunte in haar loopbaan sluit noue werksverhoudings in met verskillende stasiebevelvoerders wat haar gereeld ingespan het met hul terugvoer aan die parlement, provinsiale en distrikskantore, asook om haar ondergeskiktes in hul lewenswyse te kon mentor.
“Ek ‘preek’ altyd vir hulle om nie skaam te wees om hul loopbane as skoonmakers te begin nie en hul pad op te werk terwyl hulle studeer. Interne is ook aan my toegewys vir opleiding en plasing in lyn met hul kursusse,” het sy gedeel. “Ek glo altyd daarin om mense met inligting te help en hulle in die regte rigting te stuur. Wees dapper, maar ook nederig en gedissiplineerd.”
Hutton spog met God se genade en Sy seëning van goeie gesondheid, voorspoed en welwillendheid, asook moeder- en susterskap. Sy het twee volwasse seuns en twee kleinseuns waarvoor sy onvoorwaardelik lief is, asook ’n jonger broer wat in haar voetspore gevolg het en nou as luitenant-kolonel by die Khayelitsha-polisie uitblink.
’n Kollega, konst. Thando Fetile, het Hutton bedank vir haar waardevolle bydrae tot die bevordering van die polisiedienste en prysenswaardige dienslewering aan die Macassar-gemeenskap. “Ons voel so geëerd om saam met so ’n intellektuele, ywerige en hardwerkende persoon van integriteit te kon werk,” het Fetile gesê. “Myles Monroe het gesê ‘die waarde van die lewe lê nie in sy duur nie, maar in sy donasie’. Jy is nie belangrik oor hoe lank jy leef nie, jy is belangrik oor hoe effektief jy leef. En die meeste mense is meer besorg oor oud word as oor effektief wees”. So jou doeltreffendheid en toewyding teenoor die polisie is dit wat saak maak. Ons wens jou alles voorspoed toe.”



