Ronellé Foster, die skrywer van die boek Kanker Het My Lewe Gered: Van ’n Doodsbestaan. Ronellé is sedert 12 Desember 2023 vry van leukemie.


“As jy my sou vertel het dat kanker my grootste leermeester sou wees, sou ek gelag het – en dan vir ’n terugbetaling gevra het!”

Dít is kwinkslae van Ronellé Foster, wie se onverwagte reis deur akute myeloïede leukemie (AML) haar gelei het om die boek Kanker Het My Lewe Gered: Van ’n Doodsbestaan te skryf.

Ronellé se verhaal gaan nie net oor oorleef nie; dit is ’n eerlike ondersoek na die vind van doel en helderheid wanneer die lewe sy mees meedoënlose houe uitdeel. “Jy leer baie oor jouself wanneer jou hare uitval en jy in ’n teater-japon vasgevang is – heeltemal alleen in ’n hospitaal tydens die moderne wêreld se grootste en mees ontstellende pandemie,” sê sy met verwysing na haar behandeling by die Haemalife-beenmurgoorplantingseenheid van die Netcare Kuilsrivier-hospitaal.

Ronellé, oorspronklik van Malmesbury, woon nou in Somerset-Wes saam met haar man en twee seuns, en het haar stryd in ’n bron van hoop vir ander verander. Haar storie is ’n baken van lig, wat krag en inspirasie bied aan ander wat hul eie uitdagings in die gesig staar. “As ek humor en hoop in hierdie oomblikke kan vind, kan ander ook,” dring sy aan en herinner ons almal daaraan dat selfs die donkerste tye hul ligter lewenslesse het.

Hoewel sy nog nooit voorheen ernstige gesondheidsprobleme gehad het nie, verduidelik Ronellé dat lae bloeddruk en ystertekorte deel van haar lewe was solank sy kan onthou. Sy het ook gereeld kneusplekke opgedoen en moes al sedert haar skooldae smiddae ’n slapie neem, maar het probeer om ’n redelik gesonde leefstyl te volg en het nooit regtig siek gevoel nie.

Op 45 het sy haarself in ’n stryd teen uitputting bevind. “Die chaos van die pandemie het net tot my stres bygedra. Inperkings, tuisonderrig en werk van die huis af het die grense tussen my persoonlike en professionele lewe vervaag. My moegheid het so intens geword dat selfs basiese take onoorkombaar gevoel het, wat spanning en frustrasie by die huis veroorsaak het. Met beperkte geld en die meeste mense wat dokters en hospitale vermy, het dit onmoontlik gelyk om ’n dokter te besoek – totdat ’n vriend begin belangstel het en aangedring het om ’n afspraak vir my te maak. Ek was te uitgeput om te weier en het vir die ondersoek gegaan, sonder om te besef hoe gelukkig ek was om haar ondersteuning te hê,” deel sy.

Op hierdie punt het Ronellé reeds vir twee maande gemenstrueer. “Ek was by die dokter vir ’n roetine-papsmeer, in die hoop om te bevestig dat alles reg is. Terwyl ek daar was, het ek lukraak my terugtrekkende tandvleis genoem – ’n nuwe bekommernis wat opgeduik het. Verrassend genoeg was dit hierdie toevallige opmerking wat die dokter se aandag getrek het,” onthou sy.

Die dokter het ’n volledige bloedtelling aanbeveel. “Aangesien ek slegs ’n basiese hospitaalplan en beperkte geld gehad het, het ek gehuiwer. Maar die dokter was bekommerd dat daar iets ernstigs aan die gang kon wees en wou dit opgevolg. My skoonsuster het daarop aangedring dat ons die volgende oggend na die patoloog gaan. Ek het kort ná die toets ’n oproep van die dokter af gekry met die vraag of ons enige oorerflike bloedsiektes het. Ek het geantwoord ‘nee.’ Sy het my toe opdrag gegee om onmiddellik na die hospitaal in Somerset-Wes te gaan, waar hulle reeds voorberei het vir ’n dringende bloedoortapping.

“Ek het nie besef hoe ernstig dit was nie. Sonder dat ek dit geweet het, het ek doodgebloei – ’n feit wat ek veel later sou ontdek. Ek het die kinders vertel dat ek vir ’n paar dae in die hospitaal sou wees vir ’n bloedoortapping, en daarna vertrek. Daar het ’n hematoloog homself voorgestel en, met byna sekerheid, AML by my gediagnoseer – ’n aggressiewe bloed-en-beenmurgkanker. Hy het my meegedeel dat slegs twee nabygeleë hospitale beenmurgoorplantingeenhede gehad het en het Netcare Kuilsrivier-hospitaal aanbeveel.”

Dr. Hannes Koornhof, een van die stigtershematoloë van die Haemalife-beenmurgoorplantingseenheid by dié hospitaal, het die diagnose bevestig.

Ronellé verduidelik dat sy meer oor die diagnose wou weet. “Ek was nuuskierig en het my na Google gewend om meer oor AML-leukemie te leer. Dit was ’n fout – die skrikwekkende prognose van ’n drie maande oorlewingskoers het my soos ’n hou getref. Ek het my foon toegemaak en belowe om nie weer te soek nie. Die gedagte om slegs drie maande oor te hê, het bly hang, maar ek het geweet ek moes daarop fokus om na die dokters, my liggaam en my gedagtes luister om te oorleef. Ek het myself herinner – ‘mislukking is nie ’n opsie nie.’ ”

Ten spyte van die uitdagings was ’n positiewe vooruitsig en toewyding aan die behandelingsplan van kardinale belang. Die plan het chemoterapie en ’n beenmurgoorplanting ingesluit. Haar suster in Australië was ’n perfekte pasmaat vir die oorplanting, wat verbasend was aangesien net een broer of suster as moontlike skenker oorweeg kon word, en dit het sy eie probleme gebring. Inperkingsbeperkings het die proses bemoeilik en bykomende struikelblokke het opgeduik in die oes van die beenmurg te midde van verskerpte veiligheidsmaatreëls en wêreldwye beperkings om te verseker dat die geoesde murg veilig na Suid-Afrika vervoer kon word.

Sy sê die toegewyde span by Haemalife, in samewerking met die Netcare Kuilsrivier-hospitaal, het verseker dat hierdie brose en kosbare pakkie dit veilig halfpad om die aardbol gemaak het en dat hul onwrikbare toewyding en kundigheid die hele proses glad laat verloop het, wat haar ’n tweede kans op lewe tydens sulke onsekere tye gegee het.

Ronellé deel haar storie van die hantering van newe-effekte, haar behandeling en die uitwerking wat haar pad na herstel gehad het – nie net op haar nie, maar ook op haar gesin, uitgebreide groep vriende en almal met wie sy in hierdie traumatiese tydperk in haar lewe noue bande gevorm het.

Koornhof verskaf reg deur die boek praktiese raad en insigte oor verskeie aspekte van kanker in elke hoofstuk. Hy bespreek kankerstatistieke, diagnostiese metodes, behandelingsopsies en hoe kanker versprei. Koornhof bespreek ook die invloed van stres en bied uiters waardevolle, maklik verstaanbare raad oor die bestuur van pyn en hoe om beenmurgpasmaats te verstaan terwyl hy met vrugbaarheidskwessies handel.

Ronellé se man, Alex, en haar sielkundige deel ook belangrike perspektiewe oor hoe ’n kankerdiagnose en prognose nie net die pasiënt raak nie, maar die hele gesin en ondersteuningsnetwerk. Alex bied ’n eerlike weergawe van die emosionele, sosiale en fisieke stryd wat hy in die gesig gestaar het, en beskryf die uitwerking daarvan op hul kinders en hoe die verwoestende diagnose hul lewens geraak het terwyl hulle hulpeloos gestaan het terwyl Ronellé haar kankerbehandeling ondergaan het.

Koornhof bespreek ook die langtermyn-uitwerking van chemoterapie, die konsep van remissie en die finansiële laste verbonde aan kankerbehandeling. Hy sluit af met praktiese wenke om pasiënte, gesinne en ondersteuningsnetwerke te help om beter die kompleksiteite van kankerdiagnose en prognose te verstaan en te bestuur.

Die Afrikaanse weergawe van die boek is goed ontvang en het ’n groot invloed op die lewe van mense op soortgelyke uitdagende reise. Die Engelse weergawe, Cancer Saved My Life: It Made Me Stronger, Braver, Bolder, and Wiser, is nou ook in boekwinkels en aanlyn by ronellefoster.com beskikbaar.

Die Netcare Kuilsrivier-hospitaal se eenheid is die enigste instelling in Kaapstad se noordelike voorstede wat beenmurgoorplantings aanbied en akute leukemie behandel – selfs vir pasiënte so jonk as tien. Hul uitgebreide benadering bied verpersoonlike sorg deur alle behandelingsfases, insluitend oorlewings- en palliatiewe ondersteuning vir pasiënte en hul gesinne.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article