Beau Schoeman, ’n geliefde onderwyser en sportafrigter, is onlangs met kanker gediagnoseer.


“Sy storie is een van gee. Hierdie is die heel eerste keer in sy lewe dat hy moet ontvang.”

Só deel Rudolph Schoeman, ’n broerskind van die bekende en geliefde plaaslike onderwyser en sportafrigter Beau Schoeman, by wie vlak 4-prostaatkanker onlangs gediagnoseer is, en wat hoop om die kankerstryd met broodnodige finansiële ondersteuning van ander te oorwin.

Naasbestaandes en vriende van dié Somerset-Wes-inwoner doen ’n beroep op gemeenskapslede om hul hand in die sak te steek vir die onderwyser wat die Helderberg al dekades lank met onbaatsugtige bereidwilligheid dien.

Geld om Beau te help met die las van mediese onkostes wat nié deur sy siekefonds gedek word nie, word tans deur middel van die aanlyn skarefinansieringsplatform BackaBuddy ingesamel. Die “Brothers 4 Beau”-veldtog is vroeër vandeesmaand (Februarie) van stapel gestuur en mense word gevra vir geldelike skenkings om die teiken van R100 000 te bereik of te oorskry. Die geld sal vir behandeling gebruik word, waarvan die koste sowat R30 000 per maand beloop en waarvan die helfte nie deur die siekefonds gedek word nie. Teen Maandagoggend (20 Februarie) is bykans R52 000 reeds ingesamel.

“Hy is die afgelope 35 jaar ’n onderwyser en het baie tyd en moeite in kinders belê. Hy is bekend daarvoor dat hy leerders in alle stadiums van die lewe mentor. [Hy is] altyd positief en leef ’n lewe van dankbaarheid. Hy was afrigter van verskeie laer- en hoërskool-rugbyspanne en -rugbyklubs, [onder andere] Boland en Griekwas, en ook ’n junior Springbok-rugbyspeler,” motiveer die leesstuk op die webblad.

“Beau het so ’n groot invloed op die lewe van ander gehad en het nou nodig dat ek en jy ’n impak op sy lewe maak.”

Beau is bekend as jare lange onderwyser en sportafrigter aan die Laerskool Hendrik Louw en lê aan die einde van hierdie akademiese jaar die tuig neer ná 35 jaar se toegewydheid aan dié Strandse baken van hoop.

Sy roemryke loopbaan as deel van die Louwtjie-familie het in Januarie 1988 begin. Hy was (van 1986) vir twee jaar ’n opvoeder aan Beaumont Primêre Skool in Somerset-Wes en moes sy onderwysloopbaan weens oortollige poste by ’n ander skool voortsit. Hy het met die hulp van ’n destydse inspekteur, ene mnr. Ham, ’n tydelike pos by Strand Sekondêr gekry, maar is ’n paar weke later ’n permanente pos by Hendrik Louw aangebied.

“Aangesien Hendrik Louw ’n baie unieke tradisie het, wou ek altyd deel van hierdie skool wees. Hul missie is om die kind holisties te laat ontwikkel. Dit was altyd vir my ’n riem onder die hart wanneer ons oudleerders buite die skool sukses behaal en ’n mens besef elke onderwyser het deel in die vorming van daardie kind,” onthou Beau.

“Daar is so baie soete herinneringe. God het geleenthede vir my geskep om kinders op te voed en ook ’n mentor vir hulle te wees. Ek wou altyd ’n gelukkige kind sien. Hulle het my op vele dae geïnspireer en laat glo everybody can be somebody’s hero. Ek het nooit gedink dat ’n mens só lief en só lojaal vir ’n skool kan word nie.”

Beau verklap dat hy eintlik baie lief is vir diere en graag ’n veearts wou word. Sy ouers kon egter nie die geld bybring nie. Só het dié Kaapse boorling ná matriek aan die Hoërskool Rondebosch in 1977, soos heelwat ander Schoeman-familielede, sy onderwysdiploma verkry, en hy is tot vandag nie spyt nie. Sy trotsste oomblik as onderwyser was om die unieke ontwikkeling van elke kind te ervaar en sy trots as ’n onderwyser is om lojaal, eerlik en ondersteunend teenoor die skoolgemeenskap te wees.

Aangesien hy so passievol is oor sport, sou suksesse op hierdie gebied altyd ’n nederige hoogtepunt van sy loopbaan wees. Beau self spog met heelwat sportprestasies wat hy as jongeling opgelewer het. Hoewel hy nooit in die Cravenweek gespeel het nie, het hy vir die Kimberley-weermag gespeel en as o.20-speler en senior spanlid sy Griekwas-kleure verwerf. Hy het ook vir die Wellington-onderwyskollege gespeel en in 49 wedstryde vir Boland uitgeblink. Die jaar 1981 was ’n groot jaar toe hy as Gaselle (teen Ierland) gespeel het asook vir die Junior Springbokke, die Res van SA teen WP, SA kolleges teen Wallis, die WP-uitnodigingspan teen Cardiff, SA Platteland teen Jaguars (Argentinië) en die SA Weermagspan teen Namibië.

Beau is ook twee keer genooi om Springbok-proewe te speel en het ook die SA kolleges-krieketspan gehaal.

Dié gelowige, wat uit omgee met ywer oor die jare teruggeploeg het, meen sy doel sou oorspronklik wees om verder ’n bydrae tot sy skool te lewer en aan die Helderberg-gemeenskap te gee, “maar nou is my fokus op my gesondheid”.

“Ek moet eerlik wees – dit is my hartsbegeerte om ander te help. Met elke marathon wat ek gehardloop het, het ek elke keer die een of ander behoeftige mens of organisasie as begunstigde gekies sodat ek ’n verskil kon maak. Ek is baie lief vir my gemeenskap en sy mense. Ek wens ek kon fisiek voortgaan om te gee, maar nou het ek elke dag pyn en is ’n bietjie gefrustreerd omdat ek niks kan doen nie,” sê Beau, wat aanvanklik geskok was oor die kankerdiagnose, maar met positiewe denke en volharding elke dag makliker vind.

Volgens Rudolph is sy geliefde oom ’n goeie man wat bewonder word vir sy bereidwilligheid om te help en niks terug te verwag nie. “Ons almal respekteer hom en is lief vir hom. Ons sal dit baie waardeer as mense hul hart vir hierdie legendariese onnie kan oopmaak. Hy het nog so baie om te bied – vir sy familie, gemeenskap en vriende. Ek sal graag wil hê Oom Beau moet nog lank sy aftrede kan geniet en nie met groot mediese onkostes en pyn sit nie.”V Indien enigiemand ’n bydrae wil maak, besoek www.backabuddy.co.za/champion/project/beau-schoeman-5516922751588373913. Maatskappye wat betrokke wil raak, kan Rudolph by 078 631 3026 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article