Die rommel wat in en langs die kanaal is, maak dit moeilik vir leerders om by Strand Sekondêre Skool uit te kom.


’n Kanaal wat van Nomzamo af verby Strand Sekondêre Skool loop, het ’n inwoner erg onthuts omdat dit glo al jare vol rommel is en onlangs tot in mense se huise oorstroom het.

Die inwoner, Alberto Gordon, sê hy kla al die afgelope vyf jaar oor die kanaal wat elke jaar in die reënseisoen oorstroom.

DistriksPos & Helderberg Gazette berig al jare lank oor die berugte Soetrivier-kanaal, wat ’n knaende probleem vir inwoners in die omliggende omgewing inhou. Menige klagtes oor die onhoudbare stank wat somermaande in die lug hang en afvalwater wat in die winterseisoen oorstroom, word ontvang en opgevolg op soek na ’n oplossing.

Die rivier ontspring in die Hottentots-Holland-berg en loop deur Strand, aangrensend en onder Boundary-weg en uiteindelik deur Greenways en in die see. Die Stad het op ’n vorige geleentheid gesê die skoonmaak van rommel uit die stormwaterstelsel is ’n deurlopende taak en aanvanklik is gepoog om nette in toeganklike dele van die kanaal te installeer, maar die nette is vinnig gesteel (“Interventions to mitigate issues,” DistriksPos, 7 Mei 2020).

“Die kanaal (sloot) word glad nie in stand gehou of skoongemaak nie. Dit beteken wanneer die jaarlikse winterreën kom, oorstroom die kanaal en al die vuil water loop in mense in Rusthof en verder op met die kanaal in Nomzamo se huis in,” kla Gordon. Hy sê baie mense het jonger kinders en babatjies en moes op ’n ander plek gaan slaap toe die water Maandag 13 Junie uit die kanaal in van die huise stroom. Die water is ook baie vuil omdat dit deur rommel vloei.

“Die ander probleem is die kanaal spoel soms oor die bruggie voor Strand Sekondêre Skool, wat dit vir leerders baie moeilik maak om by die skool en huis te kom.”

Gordon kla verder en is van mening dat die plaaslike raadslid Chantel Cerfontein nie reageer op navrae oor die kanaal nie en niks doen om die situasie reg te stel nie.

Cerfontein het bevestig sy is bewus van die situasie en het gesê skoonmaakwerk aan die kanaal is al sedert die einde van Mei aan die gang.

“Spanne werk van Asanda Village deur Nomzamo en tot by die kanaal in Onverwacht om rommel in die kanaal op te tel. Ongelukkig bemoeilik die onwettige storting van rommel die spanne se werk. Die feit dat informele strukture onder die stormwaterlyn gebou word, belemmer ook die probleem aangesien die stormwater nie reg dreineer nie,” sê Cerfontein.

Sy verduidelik die enigste manier hoe die probleem nou opgelos sal kan word, is as inwoners hul kant bring en die informele strukture in Nomzamo op hoër grond bou.

“Die rommelstrooiery sal ook moet stop, want dit is die hoofrede waarom die kanaal so oorstroom. Wanneer ons beter dae het (sodra al die reën vir eers verby is) sal die spanne met werkers weer uitgaan en begin met opruimingswerk om die kanaal skoon te kry van rommel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article