Kabeldiewe het al weer die lewe vir sekere inwoners van Firgrove en Heldervue verpes toe gedeeltes van die woonbuurte vier dae sonder krag was.
Inwoners soos Suzanne Mostert, ’n inspekteur van die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary in Heldervue, het op Vrydag 9, Saterdag 10, Sondag 11 en Maandag 12 Junie oproep ná oproep na Eskom en die Stad Kaapstad gemaak om die probleme te kom oplos.
“Ons is mense wat [vir ons] krag betaal, en nou word ons reg om diens te ontvang, weggeneem,” het ’n moedelose Mostert gesê terwyl sy steeds gewag het dat die krag weer aangeskakel word.
Verder was sy bekommerd oor wie vir die skade sou betaal mits haar yskaste en vrieskaste moes afloop vanweë die kragsituasie. Volgens Mostert is dit iets wat haar versekering se inhoudskade nie meer dek nie.
Lillian Albertyn, een van die direkteure van die Helderberg Community Care Forum, bevestig sulke voorvalle van kabeldiefstal kom gereeld voor. “Die meeste kere kom die kabeldiewe van ander gebiede af om in ons omgewing te kom moeilikheid maak en kabels te steel,” sê Albertyn.
Kyle Cookson, ’n Eskom-woordvoerder, het bevestig inwoners van Heldervue en Firgrove was sonder krag juis oor kabeldiefstalle en vandalisering van Eskom se krag-infrastruktuur.
“Tien kabelgeleiers is gesteel. Die herstel-proses is bemoeilik deur gure weeromstandighede, wat tegnici se herstelwerk verleng het. Die kragtoevoer is eers verlede Maandag (14 Junie) teen 22:00 herstel,” sê Cookson.
Hy het bevestig Heldervue asook Firgrove en Macassar word gereeld deur kabeldiefstal verlam. “Eskom reik na die gemeenskappe uit en vra hulle om enige kabeldiefstalle of onwettige verbindings en vandalisering van Eskom se krag-infrastruktuur aan te meld deur Eskom se tolvrye misdaad-nommer 0800 11 27 22 te skakel.”



