Skroot- en kabeldiefstal kos die Staat, munisipa­liteite, sakeondernemings en Jan Alleman elke jaar etlike miljarde.

En tans, in ’n tyd waarin die ekonomie gebuk gaan onder die afgelope twee jaar se ekonomiese insinking weens die Covid-19-pandemie, is hierdie diefstal nog erger.

Skroothandelaars koop gesteelde koper, smelt dit in blokke en korrels, wat nie skrootuitvoerpermitte vereis nie, en verkoop dit aan handelaars wat die gesogte skroot uitvoer. Dit kan dan op byna geen manier geïdentifiseer word waar dié “afval” vandaan kom nie. In die Kom is hierdie diefstal prominent. Kabeldiewe wat verlede Vrydag by ’n substasie toegeslaan het, het ’n verlengde kragonderbreking veroorsaak. Die skuldiges word bitter selde vasgetrek en met ’n geringe kans dat dit wel gebeur, beland hierdie misdadigers weinig agter tralies, om nie eens te praat van die groot skuldige – die koper van gesteelde goedere – wat ’n mark hiervoor skep nie.

Hoewel geen kitsoplossing hiervoor bestaan nie, en owerhede steeds kopkrap, word ’n beroep op inwoners gedoen om kabeldiefstal aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article