Hulle gee met elke wedstryd hul alles en is behoorlik soos die drie musketiers – waar die een is, is die ander.
Tyron Strauss, Benley Cloete en Warrick Williams is die drie kaalvoet-rugbyspelers van Grabouw wat nou letterlik die hele dorp met hul rugbytalent op hol het. Al is dié drie leerders van die Laerskool Lochnerhof in Strand, woon hulle in Grabouw en maak die dorp baie trots, want al drie is by die Willie le Roux-rugbyfees gekies om hul skool, dorp en land by ’n internasionale toernooi in Italië en Frankryk te verteenwoordig.
Niks in die lewe is egter verniet nie en vir dié drie kan die droom om hul land te verteenwoordig aan skerwe lê aangesien hulle elkeen geld moet insamel om deel van die toernooi te wees.
“As jy die drie leerders soos ek ken, kan ek met vrymoedigheid sê hulle verdien dit om daar te gaan speel. Hulle gee hul alles – nie net op die sportveld nie, maar alles wat hulle aanpak. En wat hulle nog meer geliefd maak, is die feit dat hulle so nederig is en goeie maniere het,” vertel Elzaan Kark, in beheer van die geldinsamelingsprojek.
Tydens lootjieverkope Saterdag (27 April) in hul tuisdorp het hulle self – geklee in hul rugbytruie – die strate aangedurf om geld in te samel. Vir R100 het deelnemers die kans om ’n geslagte lam, wyne en ander geskenkpakkies te wen.
Vir dié kaalvoetseuns is rugby alles – hulle eet, slaap en droom rugby. Op ’n vraag wat hulle graag eendag wil word, het almal in een asem gesê: “professionele rugbyspelers”.
Dié 13-jariges sê hulle werk hard in die skool en wil net so graag akademies uitblink as wat hulle op die rugbyveld presteer. “My gunsteling-vak is Afrikaans,” vertel Tyron baie trots.
Benley sê sy gunsteling-vak is Engels, terwyl Warrick weer van wiskunde hou.
Tyron, wat vleuel of senter speel, kyk op na die Springbok Kurt-Lee Arendse. “Hy sien ’n ‘gap’ en vat dit. Ek hou nie net van hom as rugbyspeler nie, maar ook as mens. Hy is beslis iemand na wie almal kan opkyk,” vertel Tyron.
“My gunstelingrugbyspeler is die Nieu-Seelandse agtsteman Ardie Savea. Met elke wedstryd sit hy alles in,” sê Benley, wat agtsteman of flank speel.
Warrick kyk veral op na Beauden Barrett, ook ’n Nieu-Seelandse rugbyspeler, wat tuis is in elke posisie in die agterlyn.


V Vir nog inligting oor die lootjieverkope of om geld te skenk om die rugbyspelers se drome te help verwesenlik, bel Elzaan by 071 676 9588.
V Grabouw pronk met nog rugbyspelers wat die dorp trots maak. In 2022 is Dalvon Blood en Charlton Banies gekies om die junior Springbokspan te verteenwoordig en vanjaar is dit Michail Damon se beurt.




