Die enigste verdagte in die Jaiden Julie- moordsaak is verlede Maandag (21 November) op R1 000-borgtog vrygelaat.
Die 21-jarige Julie van Gordonsbaai is Sondag 16 Oktober in ’n messteekvoorval in Lwandle oorlede (“Jaiden met ballonne vereer,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 26 Oktober).
Julie is gesteek terwyl hy saam met vriende by Umtata Lounge in Lwandle gekuier het. Hy is in ’n privaatvoertuig na die hospitaal gejaag, maar het met aankoms aan verskeie steekwonde beswyk.
’n Verdagte, Siphosethu Selani (24), is kort ná Julie se dood in hegtenis geneem.
Die slagoffer se familie het ná die tragedie ’n versoekskrif met meer as 1 000 handtekeninge by die Strand-landdroshof ingedien en by hofverskyninge met plakkate na die hof opgeruk om te wys dat hulle borgtog teenstaan.
Volgens Jaiden se pa, Julian, voel hy al die moeite met die versoekskrif en die optog was pure verniet omdat Selani op borgtog uit is.
“Die petisie het nie eens gehelp nie. Ons voel dis onregverdig en baie hartseer. Die regstelsel het ons gefaal,” meen die ouer.
As deel van Selani se borgtogvoorwaardes mag hy nie in die Strand-omgewing wees nie en woon hy tans elders totdat hy Woensdag 7 Desember in die hof moet verskyn.
“Ons hoop hy kom 7 Desember weer in die hof voor, want ek het al gehoor van die manne hardloop weg as hulle op borgtog uitkom. Hopelik daag hy op,” sê die gebroke pa.



