Jotam Schoeman, ‘n inwoner van Somerset-Wes, is die kunstenaar wat verantwoordelik is vir die uitstekende en treffende illustrasies in Die stories van Afrikaans, kykNET se nuwe dokumentêre reeks oor die geskiedenis van Afrikaans.

Die 37-jarige Schoeman is in Barberton in Mpumalanga gebore en het in Pretoria grootgeword. Hy het visuele kommunikasie gestudeer – eers ‘n BA-graad en toe ‘n honneurs in filmkuns met die oog op animasie. Dié grafiese kunstenaar vertel ‘n bietjie meer oor die projek en sy inspirasie:

Wat was jou opdrag vir Die stories van Afrikaans?

Die fotografie-regisseur van die reeks, PJ Kotze, het my gevra of ek digitaal ook teken en of ek die effek van ‘n ontwikkelende skets op die skerm kan laat vertoon. Daarna het hy my aan Frankie Opperman, die regisseur van die reeks, voorgestel, wat met ‘n lang lys woorde, portrette en tonele uit die reeks vorendag gekom het.

Hoe lank het die illustrasies jou geneem?

Is alles met die hand gedoen of het jy tegnologie ingespan? Ek het in November 2024 begin en behoort vandeesmaand (Mei 2025) die laaste sketse te voltooi. Alles is digitaal met die hand geteken. Ek het dus tegnologie gebruik – veral om die ewebeeld van individue akkuraat te kry.

Het jy jou eie navorsing gedoen of het jy dit by die vervaardigers gekry?

Ek lees graag op oor ons geskiedenis, maar my kennis is vaal in vergelyking met die navorsing wat die vervaardigers gedoen het. Die span is wêreldklas en hulle het my met verwysings gevoer. Ek het egter ook op my eie gaan oplees waar ek kon, aangesien ek ook vir die eindproduk moes wag om mooi te begryp hoe die hele storie – die legkaart van Afrikaans – pas.

Hoeveel illustrasies het jy per program gedoen?

Dit wissel. Daar was vyf woorddefinisies per episode vir die hoofstuktitels en dan tussen twee en 12 portrette per program; soms tot vier of vyf tonele en twee of drie kaarte om te verduidelik hoe mense beweeg het en waar die grense van gebiede destyds gelê het.

Wat was die grootste uitdaging?

Ek wou graag die geskiedenis akkuraat illustreer, maar ek het aanvanklik nie genoeg verwysings gehad nie. Op daardie tydstip was die res van die span onbeskikbaar – op stel iewers of elders besig met die duisende take wat so ‘n projek verg. Ek het dus lank oor sekere dinge gewonder, byvoorbeeld oor hoe die slawe sou lyk wat in die Kaap aangekom het. My navorsing het my in sirkels gestuur. Ná ‘n gesukkel het ek ‘n paar toetslopies onderneem om die tegniek te oefen en ‘n paar visuele idees vir die vervaardigers gestuur. Hulle het daarvan gehou en op die ou einde net so gebruik.

Wat is vir jou die mooiste woord in Afrikaans?

Ek geniet die lelikes ook, maar wat mooies betref, hou ek van die woord “bewonderenswaardig”.

Waar kan mense jou kuns sien en koop?

Hulle kan op my nuusbrief inteken by www.jotamschoeman.art. Anders – hou maar dop op Instagram of Facebook, @jotamschoeman.art. Ek sal daar aankondig wanneer my werk weer te koop is.

Wie of wat is jou grootste inspirasie?

Sjoe, ‘n klomp dinge. Op hierdie tema: Ons geskiedenis en te kan begryp hoe die huidige situasie tot stand gekom het. Ek geniet dit ook om net te stap of te ry en mense, plekke en dinge waar te neem. Om te sien hoe die son op ons land en sy mense val. Ek geniet om meer oor ander kunstenaars te leer – hoe kreatiewe pioeniers dink en doen. Musiek. Vriende. Die natuur.

Die stories van Afrikaans word Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Jotam Schoeman se skets van Sheikh Yusuf van Makassar wat deel vorm van die reeks.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article