Joshlin: Meer as ‘n naam bring die verhaal van Joshlin Smith na die verhoog. Foto: Gys Loubser

Die NATi-teaterfeesprogram by die Suidoosterfees gaan feesgangers ongetwyfeld herinner waarom dié fees ‘n broeikas van vernuwing en gehalte in die Suid-Afrikaansekunstewêreld is.

Die fees word vanjaar van Woensdag 29 April tot Sondag 3 Mei in die Moederstad aangebied. Die feestema is “Tuiste” en sluit aan by Kaapstad wat langer as twee dekades reeds die tuiste van die fees is.

Die Suidoosterfees se vlagskip-drama in 2026 is Eugene. In Saartjie Botha se poëtiese verhoogverwerking van Kirby van der Merwe se veelbekroonde

roman neem Nico Scheepers se regie die gehoor op ‘n stylvolle reis saam met ‘n man wat tussen wêrelde leef.

Carlo Daniels is in die titelrol en Lynette du Plessis en Van der Merwe self (in hoedanigheid as skilder) is ook op die verhoog.

Eugene kyk met ‘n fyn oog na gemarginaliseerde manlikheid, geestesgesondheid en trauma, en verweef temas van liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis. Dié drama word deur die fees as ‘n ko-produksie met die Vrystaat-kunstefees en die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.

Die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo is op die planke in Die ander dogter, gegrond op Annie Ernaux se teks wat deur Naòmi Morgan vertaal en deur Botha vir die verhoog verwerk is. Lara Foot is die regisseur.

Dié produksie gaan oor ‘n skokkende ontdekking wat ‘n vrou oor iets in haar kinderjare maak en word beskryf as ‘n ragfyn ondersoek na skuld, familie en verlies. Met Wolf Britz se ontwerp en beligting word dit in ‘n intieme ruimte aangebied waar stilte, herinnering en die onuitgesproke emosies van ‘n gesin weerklank vind.

Die geliefde teaterveteraan Frank Opperman is te sien in twee produksies wat die menslike kondisie elk op hul eie manier verken. In Carla Smith se CRYBABY deel hy die verhoog met Nicole Holm, Wian Taljaard en René Cloete. ‘n Dagsorgsentrum word hier die afspringplek vir ‘n absurde tragikomedie waarin ‘n kind binne sekondes verouder onder die sware las van nuus, koeranthoofopskrifte en ‘n wêreld wat uitmekaarval.

In Eerste vir alles deur Wessel Pretorius speel Opperman teenoor Margit Meyer-Rödenbeck. Hulle vertolk die karakters Adam en Eva wat eeue ná die val van die Paradys terugkyk op liefde, kinders en huishou en wonder of hulle kans sien vir nóg ‘n lang pad saam. Dis ‘n komedie oor oudword, ou wonde en ou appeltjies wat steeds geskil word – veral as iemand jou nog ‘n ribbebeen skuld.

Pieter-Dirk Uys, een van Suid-Afrika se grootste ikone, bring weer sy onmiskenbare teenwoordigheid na die fees met twee produksies wat wys hoe skerp satire en medemenslikheid pasmaats is. In Evita @ 90 is die 80-jarige Uys te sien as die 90-jarige Evita Bezuidenhout, wat haar mond vol het oor Suid-Afrika se verlede en haar oor uitleen vir die TikTok-vrae van haar kleinkinders.

In The Echo of a Noise deel Uys oomblikke uit sy lewe met sy aansteeklike humor en inspirerende wyshede – ‘n lewensverhaal wat snaaks, hartseer en aangrypend is en die gehoor ongetwyfeld gaan meevoer.

Die Suidoosterfees het ‘n aantal produksies help ontwikkel wat die NATi-teaterfees se hartklop verdiep. In Joshlin: Meer as ‘n naam, moontlik gemaak deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en vervaardig met die ondersteuning van Tribuo en die Proscenium-dramakompetisie, bring ‘n ensemble jong akteurs die verhaal na die verhoog.

Herschelle Benjamin se teks oor die meisie wie se storie Suid-Afrikaners steeds aan die hart gryp, is teater wat indringende vrae stel oor geregtigheid, gemeenskappe, ‘n kind wat weggeraak het en nie net uit ons geheue mag verdwyn nie.

Die Suidoosterfees brei vanjaar verder uit as Kunstekaap, die tradisionele spilpunt van feesaktiwiteite, met verskeie nuwe venues wat benut word.

Volledige besonderhede is op die feesprogram, wat nou op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article