JJ Engelbrecht glimlag breed by die paal waar hy die seemeeu gered het. Foto: Rick Marais


’n Twintigjarige-man van Gordonsbaai het nie geskroom om teen ’n lamppaal op te klouter en sy eie lewe in gevaar te stel om ’n seemeeu wat aan die bokant van die paal met ’n vishoek in sy bek vasgehaak was, te red nie.

JJ Engelbrecht, ’n werknemer by Just Africa Scuba, het Vrydag 9 Februarie ’n oproep van sy baas, Marius Wolfaardt, ontvang.

Wolfaardt het hom gevra of hy ’n leer het en hom ingelig van die situasie met die seemeeu wat al ’n ruk lank bo-aan ’n lamppaal ’n paar meter van Just Africa Scuba in Harbour Island af, gespartel het.

Volgens Engelbrecht is oproepe na verskeie organisasies op daardie tydstip gemaak, maar niemand wou glo die spartelende voël kom red nie.

“Ek het toe net so ná 17:00 daar aangekom en die situasie geëvalueer, en toe by een van die duikstudente ’n skuba-mes gekry. Ek het dit toe om my gewrig vasgemaak en teen die paal begin opklim,” onthou hy.

Engelbrecht sê hy het halfpad boontoe eers besef hoe hoog die paal is..

“Ek wou net so vinnig as moontlik klaarkry en ek het dieselfde tegniek gebruik as wat ek gebruik wanneer ek groot rotse uitklim.”

Marius Wolfaardt en JJ Engelbrecht. Foto: Rick Marais

’n Skermgreep van die video van die seemeeu-reddingspoging. JJ Engelbrecht het sy lewe op die spel geplaas om ’n seemeeu wat aan ’n lamppaal in Harbour Island in Gordonsbaai vasgesit het, te red.

Hy was nie daarvan bewus dat ’n video-opname van hom gemaak word terwyl hy die paal uitgeklim het nie; sy enigste fokus was om die seemeeu te bevry.

“Toe ek heel bo kom, sien ek die seemeeu is aan die lamppaal vas, want ’n stuk vislyn was om die paal en ’n hoek en ’n stukkie aas was in sy bek.

“Ek kon egter sien die arme voël was op sy laaste; hy sou uiteindelik vrek. Ek moes hom net red,” sê hy.

Wolfaardt vertel dat daar altyd ’n stigma daaraan kleef dat jong mense nie wil werk nie en nooit dapper is nie, maar Engelbrecht het almal verkeerd bewys deur die “onselfsugtige daad” te doen.

Engelbrecht, wat in Pretoria gebore is en eers as ’n gids in die Bosveld gewerk het, het daarna oorgeskuif na anti-poaching voordat hy by Just Africa Scuba aangesluit het.

Vir hom was natuurbewaring nog altyd belangrik.

“Ek wil mense meer leer en wys wat bewaring alles behels, want baie mense is op daardie gebied onopgevoed.

“Ek hoop ek het met hierdie daad aan mense gewys hulle hoef nooit bang te wees om die regte ding te doen nie,” sluit Engelbrecht af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article