Gladys Stephanus (middel) en Sementhia Abia (voor links) is die twee gemeenskapswerkers van die Masincedane-gemeenskapsdienste wat die ouers en kinders na Grabouw se kantoor van binnelandse sake vergesel het vir hul onderhoude vir 12 kinders se geboortesertifikate. Op die foto is van die kinders en die ouers wat die kantoor besoek het.


Twee gemeenskapswerkers het verlede jaar die nood in die Helderberg gesien met heelwat skoolgaande kinders wat nie amptelike geboortesertifikate gehad het nie, en hulle die ouers begin help het om die kinders te registreer.

Gladys Stephanus en Sementhia Abia, gemeenskapswerkers van die Masincedane-gemeenskapsdiens, het 12 kinders asook hul ouers op Donderdag 2 Februarie na Grabouw se kantoor van binnelandse sake vergesel.

Abia en haar kollega, Stephanus, ’n inwoner van Broadlandspark, werk elke dag in gemeenskappe waar hulle agtergekom het in baie huishoudings het niemand ’n geboortesertifikaat nie.

“Die probleem is hier is geen departemente wat help met wat ons late birth registration noem nie. Die naaste plek waar die ouers hul geboortesertifikaat kan verkry as hulle dit nog nie gedoen het nie, is Grabouw of Khayelitsha. Hierdie mense het nie geld of tyd om soontoe te reis nie.”

Die twee het toe self met ’n plan vorendag gekom en Dinsdag 10 Mei het hulle 17 mense in ’n taxi gelaai en hulle na Grabouw geneem om hul geboortesertifikate te gaan uitsorteer (“Weldoeners help met geboortesertifikate,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 20 Julie 2022).

Tydens die besoek onlangs het personeel by binnelandse sake onderhoude gevoer met ’n ouer van elkeen van die kinders om vas te stel waarom die geboorte van die kind nie destyds geregistreer is nie.

“ ’n Deel van die proses is ook om vas te stel of die kinders wel dié ouers se kinders is,” vertel Abia.

Die 12 kinders is deel van die eerste groep wat vir die onderhoude teruggeroep is en nog heelwat kinders en ouers wag om teruggeroep te word. Abia voeg by die 12 kinders het nog nie hul geboortesertifikate nie en die proses is nog lank, maar die bal is aan die rol.

“Ons is twee dae vooraf in kennis gestel die mense en hul kinders moes gaan vir die onderhoude. Ons het ’n gedeelte uit ons eie sak betaal en die ouers moes die res uit hul sak betaal. ’n Paar kon nie die rit bekostig nie en ons het toe hul taxigeld betaal.

“Ons het nie die keer – soos laas – kans gekry om die gemeenskap vir skenkings te vra nie,” sê Abia.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article