Die Sir Lowry’s Pass-jongeling en passievolle sekuriteitswag Austin Bock het vroeër vandeesmaand (Februarie) in die spervuur gesterf.


Rouklaers het verlede Saterdag (15 Februarie) hul laaste eer betoon aan ’n jong sekuriteitswag wat in ’n koeëlreën tydens ’n gewapende rooftog in Langa gesterf het.

Die Sir Lowry’s Pass-inwoner Austin Bock was een van twee Security Consortium SA-beamptes wat op Maan­dag 3 Februarie in die voorval dood is.

Kaptein FC van Wyk, ’n woordvoerder vir die provinsiale polisie, het by navraag gesê die Langa-polisie ondersoek twee aanklagte van moord ná die skietvoorval, wat Maandagaand om 18:26 in Harry Gwalla-straat oorkant die Langa-taxistaanplek plaasgevind het. Twee manlike sekuriteitswagte – Bock en ’n 31-jarige mede-beampte – is noodlottig gewond.

“Luidens verslae het die sekuriteitswagte ’n afleweringsvoertuig begelei en die laaste aflewering was in Langa. Op pad terug by die sirkel het twee onbekende mans na bewering op die wit Nissan-bakkie waarin hulle gery het, geskiet en hulle noodlottig gewond. Niks is van hulle geneem nie; albei se vuurwapens is in die voertuig teruggevind,” het Van Wyk gesê. “Die motief blyk vermoedelik roof te wees.”

Enigiemand met inligting oor die noodlottige skietvoorval word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte, lt. kol. Adrian Pretorius, verbonde aan die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad-ondersoeke, by 082 777 8499 te bel, of Crime Stop by 08600 10111, of alternatiewelik die MySAPS- mobiele toepassing anoniem te gebruik.

Bock is verlede Saterdag uit die Sir Lowry’s Pass Metodistekerk begrawe. Volgens Tombeni was die kerk stampvol en het die talle rouklaers by die begrafnisdiens en die predikant se roerende boodskap getuig van haar seun se positiewe invloed op ander en die voorbeeldige lewe wat hy gelei het.

Dié 24-jarige het hom vir byna drie jaar aan sekuriteitsdienste toegewy. Hy het in Januarie vanjaar by Security Consortium SA aangesluit, maar die noodlot het hom ná net een maand getref. “Hy het vir sy werk gelewe. Dit was sy roeping,” sê sy hartseer ma, Yolande Tombeni (53). “Sy liefde en omgee vir ander is in sy beroep weerspieël.”

Tombeni het haar smart en pyn verder uitgespreek toe ’n voormalige polisiebeampte, wat nou vir ’n private sekuriteitsmaatskappy werk en Bock se sekuriteitsdroom ondersteun het, aan haar voordeur geklop het om haar die verpletterende nuus mee te deel.

“Hy het met ’n swaar gemoed gesê: ‘Austin is geskiet.’ Ek het gevra: ‘Is hy oukei?’ Maar ek kon die antwoord in sy oë sien. ‘Ek is jammer; hulle het dit nie gemaak nie,’ het hy geantwoord,” het die ma, wat enige ouer se nagmerrie beleef, gesê.

Tombeni het die volgende dag haar geliefde seun, wat menige skietwonde opgedoen het, by die lykshuis uitgeken.

“Hy was ’n ware staatmaker; ons broodwinner en altyd gewillig om ’n klip uit iemand se pad te rol.”

Sy mis veral sy teenwoordigheid en al die moederlike pligte wat sy vir hom uitgevoer het, veral om sy kosblik te pak, sy aandete op te skep en alles volgens sy pynlik netjiese manier te doen. “Ons mis hom verskriklik,” het sy verklaar.

Bock word oorleef deur sy ma, sy pa, Franklin Bock (45), en sy broer wat die afgelope Saterdag 14 geword het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article