Die jong pianis Hermanus Schmidt het die beoordelaars by die 2024- Nasionale Jeugmusiekkompetisie beïndruk.


’n Jong pianis van Somerset-Wes was verlede week onder die ses finaliste van die 2024- Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK), wat by die Endler-saal in Stellenbosch aangebied is.

Die 16-jarige Hermanus Schmidt het aan die einde van die uitdagende kompetisie, wat van Maandag 2 tot Saterdag 7 Desember onder die beskerming van die Universiteit Stellenbosch (US) se musiekdepartement aangebied is, as naaswenner in die klavier-afdeling geëindig. Dié Paul Roos Gimnasium-leerder het ook ’n bronsmedalje en ’n geldprys van R3 500 gewen.

Die 17-jarige violis Emma Steenkamp van Plumstead het met die goue medalje en die Michael Maas-gedenkprys van R36 000 weggestap. Twee pianiste, Yu Qing Peng (16) en Chanda Bupe Lupambo (19), was onderskeidelik tweede en derde. Elkeen het onderskeidelik ’n silwer- en bronsmedalje asook R15 500 en R10 000 gewen.

Wat Schmidt se prestasie meer spesiaal maak, is dat hy sy musiekreis op 12-jarige ouderdom tydens die Covid-19-pandemie begin het deur YouTube-lesse te volg. Vyf maande later het hy met klavierlesse by Marisa van Wyk van Musaic in Somerset-Wes begin. Hy is tans ’n student van dr. Ronella van Rensburg en prof. Mario Nell, voorsitter van die US se musiekdepartement.

Volgens die opkomende ster wissel sy oefentye by die klavier. As hy vir ’n kompetisie voorberei, kan hy tot ses ure per dag op die klawers doenig wees. Hy oefen daagliks dikwels twee tot drie ure – en somtyds neem hy ’n pouse.

Schmidt is die jongste van drie kinders. Sy broer tokkel soms op die kitaar, maar sy suster geniet glad nie klassieke musiek nie en speel ook nie ’n instrument nie. Wanneer die gesin byeenkom, is musiek altyd deel van die samekoms, met kitaar-speel en sang wat gewoonlik van die byeenkoms ’n joviale een maak.

Hy beskryf sy musiek-kleur as oranje. “Ek is lief vir die sonsondergang, want dit gee my ’n kalmte en gelukkige gevoel – soortgelyk tot die gevoel wat musiek vir my bring.”

Schmidt se gunsteling-komponis is die Russiese komponis, pianis en dirigent Sergei Rachmaninoff. “Sy musiek vervoer ’n mens na ’n ander planeet.”

As hy nie musiek maak nie, is hy gereeld in die gimnasium. Hy het ook ’n liefde vir rugby en het eens aan die sport deelgeneem, maar onlangs opgehou en hoop om aanstaande jaar weer te speel.

Die tiener beskryf homself as gedrewe – sy leuse is “Feet on the ground.”

Hy droom om in die toekoms ’n konsertpianis te word.

“Maar dit voel soms soos ’n riskante droom,” sê Schmidt.

Die NJMK-afdelingswenners was Yu Qing Peng (klavier), Emma Steenkamp (strykinstrumente), James Cilliers (houtblaasinstrumente – saxofoon) en Kyrah Adams (ander instrumente – marimba). Elkeen het R6 000 en ’n silwermedalje in die sak gedruk.

Die NJMK het Saterdag met ’n luisterryke galakonsert saam met die Kaapstadse simfonieorkes in die Endler-saal ’n hoogtepunt bereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article