Die gebrul van talle ysterperde wat Maandagaand (10 Januarie) ter nagedagtenis van Arthur Ripepi met hoë enjintoere deur Helderberg se strate beweeg het, het met die spesiale deurry-gedenkdiens tot by sy ouerhuis in Strand hartroerende golwe van smart gestuur deur die skare toekykers wat buite bymekaargekom het.
Motorfietsryers van die Chariots of Fire Biking Ministry-motorfietsklub het in massas uit verskeie hoeke van die Moederstad by ’n vulstasie op die N2-snelweg byeengekom, die pad in konvooi aangedurf op ’n rit om hul laaste eer aan hul mede-motorfietsentoesias en die Helderbergkom se geliefde verkeersbeampte te betuig. Die gedenkwaardige gebaar het saamgeval met wat die 37ste verjaardag van Ripepi sou wees, wat slegs dae voor dié dag in ’n motorfietsongeluk op die R44 tussen Kogelbaai en Rooi Els dood is.
Dié passievolle senior verkeersbeampte van die Kaapstad-metro se lewelose liggaam is verlede Donderdag (6 Januarie) op die ongelukstoneel langs die kusroete opgespoor nadat hy vermis was en ’n beroep via sosiale media op die publiek gedoen is om hom te help opspoor.
Volgens Ripepi se vrou, Petuela, is hy Woensdag laas gesien toe hy die Kogelbaai-kampterrein op sy motorfiets verlaat het.
Sy het verduidelik hulle het die vorige dag by haar ouers aangesluit, wat saam met hul twee dogtertjies gekamp het, en vir die aand daar oorgebly.
Haar man was daardie noodlottige dag van diens af en het die oggend gou huis toe gegaan om nog benodigdhede te gaan haal.
Die ongeluk het gebeur toe hy later na ’n winkel in Rooi Els gegaan het.
“Toe hy nie terugkeer nie en ook nie sy selfoon antwoord nie, het ek saam met my suster in die kar gespring en om die berg gery om hom te gaan soek – maar hom nie gevind nie. Ek het later besluit om weens die gebrek aan selfoonverbinding huis toe te ry en deur die nag elke polisiekantoor en hospitaal gebel.
“Ek was heeltemal in ’n toestand, want my man se selfoon was te alle tye aan en jy kon hom altyd bereik.
Maar nie hierdie keer nie, en ek het geweet daar is groot fout,” het sy bedroefde vrou vertel.
Sy het voorts vertel dat hulle onder indruk van ’n 24-uur-wagtydperk hom eers omstreeks 12:00 Donderdagmiddag as vermis by die polisie aangemeld het en later dié dag deur owerhede van die gruvonds ingelig is.
Die Gordonsbaai-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Omstandighede wat tot die voorval gelei het, is steeds onbekend en is deel van die polisieondersoek.
Petuela het Ripepi beskryf as iemand wat betekenis gegee het aan die woord medemenslik. “Hy het mense, ongeag wie en wat hulle is, liefgehad, sy gemeenskap met die hart gedien en sy werk met trots aangepak,” het sy aangevoer.
“Hy sal onthou word as die staatmaker wat uit sy pad gegaan het vir ander.”
Ripepi se ouer suster, Hildergard Isaacs, het vertel hoe sy danksy haar broer geleer het om voluit te leef, onbaatsugtig te wees, goed te doen en te wees vir ander, en liefde uit te straal.
“Ná gesprekke met ander en al die medelye wat op sosiale media ingestroom het, het ek besef Arthur was ’n merkwaardige mens. Hy was ’n toegewyde student, lojale vriend, beste broer en seun, en ’n liefdevolle omgee-pa en eggenoot.”
Sy het in ’n terugblik en met terugflitse van soete herinneringe meegedeel dat haar geliefde broer op 10 Januarie 1985 as die jongste van drie en enigste seun van hul ouers, Susan en Ryland, gebore is. Hy het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Dr. G.J. Joubert voortgesit, aanbeweeg na die Hoërskool Gordon en later sy opleiding by die Gene Louw-verkeerskollege voltooi. Hy het die gawe gehad om ’n vriend van enigiemand te maak en as kind het hy soveel vriende gehad dat hulle elke dag die huis vol gesit het.
Net so gewild soos Ripepi in sy vriendekringe was, was die rooi Opel-motor waarmee sy ouers hom beloon het nadat hy matriek geslaag het.
Hy het met dié wiele met ’n bobaas klankstelsel wyd en syd saam met sy maters rondgery en gekuier. Hy was sy susters se beskermer en het as gevolg van die hegte band met hul ouers, volgens hulle, glo “weggekom met moord”.
Hy het deur sy loopbaan vasbeslote en gemotiveerd gebly om die beste te wees – wat hy volgens hoofinspekteur Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Kaapstad-verkeersdienste, wel was.
“Die toegewyde uitvoering van sy pligte, sy gemeenskap-eerste-houding en ’n verpligting om alle burgers deur onvoorwaardelike respek te dien, het daartoe gelei dat hy ’n uitsonderlike beampte en blink voorbeeld van die departement se leidende beginsels geword het. Hy was ’n opregte vriend vir almal, al het hy jou pas ontmoet. Hy het altyd ’n manier gevind om mense gelukkig te maak. En bowenal was hy onbaatsugtig en wou hy altyd seker maak dat alles en almal ‘orraait’ is,” het Bezuidenhout gesê.
“Die leemte deur so ’n diepgaande verlies raak almal in die verkeersdienste.”



