Die Somerset-Wes-polisie het ’n geregtelik doodsondersoek geopen nadat die lyk van ’n man in Sir Lowry’s Pass gevind is.
Volgens ’n polisiewoordvoerder is die lewelose liggaam van ’n jong man verlede Vrydag (6 Mei) aangetref waar dit aan ’n boom gehang het.
Die oorledene is geïdentifiseer as ’n 20-jarige van die Sir Lowry’s Pass-gemeenskap.
Die polisiewoordvoerder het gesê die lyk is omstreeks 07:00 in ’n omgewing tussen Riemvasmaak en Forest Walk, waar ontwikkeling plaasvind, aangetref. ’n Werker wat die gebied skoonhou, het op die gru-vonds afgekom.
“Geen misdaad word vermoed nie,” het die polisiewoordvoerder gesê.
DistriksPos & Helderberg Gazette het daarin geslaag om kontak met die oorledene se ouer suster te maak, wat meegedeel het hul bedroefde familie is diep geskok oor die tragiese verlies. “Ons het dit nie verwag nie,” het die 25-jarige herhaaldelik gesê.
“My broer was ’n lieflike, goedhartige seunskind wat in en om die huis hard gewerk het.”
Die gebroke suster het gesê sy was Vrydag reeds by die werk toe sy op Facebook van die voorval wat haar geliefde broer geëis het, gelees het. Gevolglik het sy onmiddellik na haar gesin, familie, ander naasbestaandes en vriende uitgereik, wat haar die nuus meegedeel het.
“Ek kan nie in woorde sit hoe ek gevoel het toe ek die kommentaar op daardie inskrywing gelees het nie. Ons het soveel onbeantwoorde vrae,” het sy gesê.
Volgens ’n familiekennis was die oorledene – wat as kind nooit probleme veroorsaak het nie – die vorige aand (Donderdag) na bewering “nie homself nie”.
“Hy het glo omstreeks vyfuur die oggend die huis verlaat. Kort voor sewe het iemand aan die familie se deur geklop met die nuus dat sy lyk aangetref is,” het die familiekennis gesê.
“Ons harte gaan uit na die bedroefde familie in hierdie moeilike tyd.”
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Valton Lategan, by 021 850 1302 bel.



