’n Plaaslike jong man het in ’n motorongeluk in Strand omgekom.
Die voorval het verlede Donderdag (4 Augustus) in Georgestraat gebeur nadat die slagoffer ’n kuierplek verlaat het.
Die oorledene is deur owerhede geïdentifiseer as die 31-jarige Christiaan van der Merwe van Somerset-Wes.
Volgens die Strand-polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Nico Beukes, is polisielede om 23:20 Donderdagaand na die toneel ontbied.
Lede van Gordonsbaai-sekuriteit (GBSek.) en die plaaslike buurtwag het ook op die voorval reageer.
Getuies beweer die voertuig, ’n wit Suzuki Swift, het teen ’n groot spoed in die rigting van Strand in die straat gejaag.
Getuies het ’n groot slag gehoor, waarna die voertuig gerol het.
Geen ander voertuie was by die voorval betrokke nie en die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Die eienaar van die kuierplek het ’n onderhoud aan die koerant toegestaan. Hy het vertel dat minstens sewe mense wat besorg was oor hierdie jong man – wat saam met ’n groep vriende pool gespeel het – hom genader het om hom ’n saamrygeleentheid aan te bied.
Van der Merwe, wat glo met slegs ’n potspelstok en ’n selfoon gesien is, het glo ontken dat hy ’n motor het. Hy het op vrae geantwoord hy wag op ’n vriend wat hom sou kom oplaai.
“Hy het skielik verdwyn, en vyf of tien minute later het ons van die ongeluk gehoor,” het die eienaar vertel.
Hy het voorts sy skok oor die tragedie uitgespreek, veral omdat die slagoffer beplan het om by hierdie kuierplek se pool-liga betrokke te raak en gevolglik sy kontakbesonderhede by hom gelos het.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

