Caylin Roos en Nadir Roulin wys na ’n kanaal wat deel is van die kanaal waarin die drie kinders die afgelope naweek beland het. Foto’s: Rick Marais


“Ek kon sien hy het nie seergekry nie. Ek het hom vasgehou; ek kon voel hoe sy liggaam bewe. Hy was getraumatiseerd.”

Dit is die woorde van Tauhira Fanie, die skoolhoof van Dr. G.J. Joubert Primêr, kort nadat ’n kind Saterdag (25 November) gesien het van sy maatjies het naby aan ’n oop kanaal in Strand geloop en in die water verdwyn. Hy het om hulp geskree waarna die kinders ’n rukkie later uit die kanaal gered is.

Die drie kinders, tussen agt en nege jaar oud en van wie een ’n leerder van Dr. G.J. Joubert Primêr is, het amper hul lewe in die kanaal, wat aan Boundary-weg grens, verloor.

Lillian Albertyn, die Strand-GPF se buurtwag-koördineerder, was ten tyde van die voorval in ’n opleidingsessie saam met Fanie toe die skoolhoof se foon lui en hulle bewus gemaak is van wat met die kinders gebeur het en waar hulle gevind is.

“Ek en juffrou Fanie het dadelik in haar kar gespring en na die toneel gejaag, waar die brandweer reeds besig was om die kinders uit die kanaal te haal. Ek was daar vir morele ondersteuning en het seker gemaak die kinders is al drie ongedeerd,” sê Albertyn.

Fanie, wat die leerder van haar skool in haar arms gekoester het, het die ma van die kind gevra om hom nie uit te skel nie juis omdat die hele ervaring vir hom en sy maats al klaar traumaties was.

“Die noodpersoneel, die noodvoertuie se ligte en al die aandag het die kind reeds getraumatiseer. Die ma se skel het dit net vererger en ek het haar gevra om nie so met die kind te raas nie, want hy is net nege jaar oud en het ’n fout gemaak,” brei Fanie uit.

Sy beskryf die redding van die drie kinders as ’n “absolute wonderwerk” – juis oor die vuil water wat in die kanaal vloei.

“Die kinders het by die kanaal in Boundary-weg ingeklim en hulle is by Greenways naby aan die Ocean Basket in Strand gered en uit die kanaal gehaal,” sê Fanie.

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het bevestig dat ’n noodoproep net voor 11:30 ontvang is oor ’n minderjarige, wat by die kanaal by Boundary-weg in Rusthof ingegaan het.

“Die span van Strand was eerste op die toneel en is deur die polisie ingelig dat drie minderjariges vermis word. Bykomende spanne van Sir Lowry’s Pass en Kuilsrivier is ingestuur om te assisteer.

“ ’n Soektog is begin en al drie minderjariges is om 12:10 opgespoor.

“Die drie het die stormwaterpype (in die kanaal) gebruik om al die pad tot by Greenways te stap.

“Wetstoepassers het bevestig dat dit nie die eerste keer is wat hulle só ’n geval het nie,” het Carelse gesê.

Willie Engelbrecht, wat naby aan die kanaal woon, beskryf die kanaal as iets wat dringende aandag nodig het.

“ ’n Aaklige reuk kom uit die kanaal en soveel rotte kom by ons huise in, wat naby die kanaal geleë is. Ons het al telkemale na die Stad Kaapstad uitgereik, maar niks gebeur ooit met die kanaal nie.

“Rommel en so aan hoop op langs die kanaal aan Onverwacht-pad se kant. Ons beplan binnekort ’n vergadering met ’n klomp inwoners om klagtes oor die kanaal te hoor, want almal is ontevrede. Ons eis oplossings,” het Engelbrecht bygevoeg.

Fanie het ook verduidelik dat die kanaal ’n groot gevaar vir kinders van die gemeenskap inhou.

“ ’n Ysterhek, wat toegang tot die kanaal moeiliker gemaak het, is verwyder (gesteel) en deesdae kan ’n mens maklik toegang tot die kanaal kry.

“Iets moet gedoen word, want die kanaal is baie gevaarlik,” sê Fanie.

Die Stad Kaapstad het teen DistriksPos & Helderberg Gazette se druktyd nog op vrae geantwoord wat handel oor die huidige toestand van die kanaal en die feit dat die kanaal so maklik toeganklik is vir kinders vanuit die gemeenskap nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article