Drie verdagtes is Vrydag (23 September) in hegtenis geneem nadat hulle glo by ’n winkelsentrum in Langeneggerstraat in Strand goed uit ’n voertuig gesteel het.
Volgens Philip Versfeld van die Strand-buurtwag het lede gesien hoe die verdagte voertuig, wat op ’n lys van voertuie is wat by diefstal uit ander voertuie betrokke is, die gebied binnekom. “Ons voertuie het die voertuig begin volg. Hulle was eers in Kusweg, maar hier het die drie verdagtes nie reggekom nie en hulle het na hul volgende slagoffer gaan soek,” sê hy.
Die drie verdagtes het in ’n swart Volkswagen Golf gery en toe by ’n winkelsentrum in Gants Plaza stilgehou, waar hulle op ’n slagoffer gewag het.
“ ’n Vrou het in ’n Volkswagen Polo in ’n parkeerplek oorkant die verdagtes se motor stilgehou. Nadat sy buite sig was, het die verdagtes gaan rondkrap in haar voertuig.”
Die verdagtes het glo ’n toestel gebruik om die motor se sentrale sluiting via ’n afstandbeheerder (remote) te onderbreek, wat veroorsaak dat die motor nie sluit nie.
Die hele voorval is op kringtelevisie-beeldmateriaal vasgelê, en is gebruik om die verdagtes aan te keer en kan in die hofsaak gebruik word.
Wetstoepassers is ontbied en ingelig van die verdagtes.
“Die voertuig het op die N2 gery, en is net voor Builders Warehouse vasgetrek. Terwyl dit gebeur het, was ons in kontak met die vrou in wie se motor daar gekrap is, en sy het self ’n klagte by die polisie aangemeld,” voeg hy.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, sê drie verdagtes is vir poging tot diefstal uit ’n motor in hegtenis geneem en het Maandagoggend in die Strand-landdroshof verskyn.
“Geen toestelle is in die motor wat die sein van die motor se elektroniese sluitingstelsel kon blokkeer, gevind nie. Ons vermoed ’n tweede voertuig is gebruik,” sê Beukes.
Versfeld rig ’n versoek aan die publiek om te verseker dat hul motors gesluit is wanneer hulle wegstap en om te voel of die deure wel gesluit is.



