’n Brand het Maandagoggend 2 Januarie verwoesting in Helen Square in Nomzamo, Strand gesaai. Foto:

Credit: SYSTEM

Die Nuwejaar het ’n tragiese begin gehad vir inwoners van Helen Square in Nomzamo, Strand. Die son het skaars op die feesvieringe van eerste dag van Januarie gesak, toe ’n verwoestende brand in dié informele nedersetting uitbreek.

Altesaam 19 mense is haweloos gelaat ná die brand met sewe sinkhuise klaargespeel het.

Genadiglik het niemand seergekry nie, maar die mense wat hulle huise verloor het, is ook al hulle besittings en klere kwyt.

Volgens wyksraadslid Xolani Diniso, het die brand in die donker oggendure van Maandag 2 Januarie om ongeveer 02:00 uitgebreek.

“Die oorsaak van die brand is tans nog onbekend,” het Diniso verduidelik.

Diniso het in ’n persverklaring na die publiek uitgereik en gevra dat mense hulle harte en beursies oopmaak om die slagoffers van die brand met noodsaaklikhede soos klere, komberse, matrasse, skooluniforms en nie-bederfbare kosse te help.

Die raadslid is bereid om self die donasies by die skenkers te gaan afhaal. Skenkings kan alternatiewelik na die Lwandle-munisipale kantoor geneem word (wyk 86).

Skakel Diniso by 084 055 0615 or Sylvia Skampula, voorsitter van Sanco in Lwandle by 073 597 7880 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article