’n Inwoner van Onverwacht het ná talle voorvalle waarin diere in Boschstraat doodgery is, besluit genoeg is genoeg en ’n petisie opgestel en handtekeninge begin insamel om die raad te smeek vir ’n spoedhobbel of twee in die woonbuurt.
Yolanda van Rhyn (42) staan moedeloos in die straat en wag vir DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms en ’n mens kan dadelik sien dié vrou dra die wêreld se bekommernisse op haar skouers.
“So paar Vrydae terug – op 19 Januarie – is hier weer ’n kat doodgery. Dis nou al die vierde kat in ’n baie kort tydjie. Motors jaag op en af met Boschstraat en die straat is ’n tikkende tydbom voordat ’n kind of iemand omgery word,” sê sy.
’n Ruk voordat die diere doodgery is, is ’n kind glo skraps deur ’n voertuig gestamp, maar dié was gelukkig ongedeerd.
“Ons is moeg vir die motoriste wat so in ons straat jaag. Ons bid tans vir ’n spoedhobbel of twee,” brei sy uit.
Sy het in haar woede en hartseer ’n petisie opgestel, wat nou al deur sowat 30 mense van die omgewing onderteken is en waarin die raad gesmeek word om spoedhobbels te installeer.
“Ons het die petisie aan Chantal Cerfontein oorhandig,” voeg sy by.
Die Subraad 8-voorsitter het verlede Vrydag (26 Januarie) bevestig sy het die petisie vir spoedhobbels ontvang.
“Ek het uitgereik na die departement wat met paaie werk en gevra vir spoed-kalmerende maatreëls om vir dié pad oorweeg te word.
“Deesdae kos dit ongeveer R50 000 vir een spoedhobbel,” sê Cerfontein.
Van Rhyn het verder gesê: “Ons is keelvol. Daardie dag toe die motor die laaste dier doodgery het, was ek naby aan waar dit gebeur het. As ek ’n baksteen in my hand gehad het, dan sou ek die voertuig daarmee gegooi het, want die voertuig het die dier getref en weggejaag.
“Ons kan nie meer so aangaan nie.”
Van Rhyn is van kleins af al lief vir diere en verduidelik dit is belangrik dat iets omtrent die probleem gedoen moet word.
“Om ’n vierpotige vriend raak te ry en dan weg te jaag, is nie reg nie.
“Ons moet keer dat dit weer gebeur,” voeg sy by.


