Atletiekkoors loop hoog in die Helderberg terwyl leerders van die hoërskole Parel Vallei, Hottentots-Holland en Strand gereed maak vir die jaarlikse Dis-Chem- interskole kragmeting Vrydag (3 Februarie).
Die gemeenskap kan uitsien na ’n viering van atletiek, gesonde mededinging en sportmangees sowel as die opwindende kleur en klank van optogte en passievolle ondersteuners wat uit volle bors sing om elke atleet oor die wenstreep te help.
Die versterking van vriendskappe oor skoolgrense heen saam met ’n stukkie belewenis van elke skool se unieke gees maak hierdie dag soveel groter as net ’n kompetisie tussen die vinnigste en beste atlete wat mekaar in 129 items die stryd aansê.
Daniel du Toit, die takbestuurder van Dis-Chem Somerset Mall, sê dis juis hierdie veel groter prentjie waarop hulle as hoofborg die afgelope 16 jaar inkoop. “Dit is ’n voorreg vir Dis-Chem Somerset Mall om betrokke te wees by ’n sportgeleentheid wat ’n gesonde en aktiewe leefstyl bevorder. Ongeag wie wen of verloor, net die deelname van meer as 600 atlete maak van almal kampioene,” sê Du Toit.
Vir die skole se spankapteins is hierdie ook gewoonlik die afsluiting van hul atletiekloopbaan by hul onderskeie skole, en elkeen het ’n boodskap vir die atlete wat meeding.
“As atlete streef ons daarna om die beste weergawe van onsself te wees wanneer ons die veld en baan betree. As kapteins wil ons ’n voorbeeld hierin stel wat ons spanmaats en ander atlete kan inspireer. Mag ons almal bymekaar kom om ons beste talent en ons liefde vir sport vir elke ondersteuner ten toon te stel,” sê die HHH-kapteins Mervian Mally en Pavashe Muzokomba.
HS se spankapteins, Jordan Wynne-Vaaltyn en Larissa Barrish, sê: “Usain Bolt het nege goue medaljes in drie Olimpiese Spele gewen. Hy het altesaam minder as 115 sekondes op die baan gehardloop en vir elke sekonde meer as $1 miljoen verdien, maar vir daardie 115 sekondes het hy meer as 20 jaar baie hard geoefen. Volhard en bly glo in jouself. Harde werk word beloon.”
PV se spankapteins, Christopher Gouws en Lerize de Villiers, haal op hul beurt die Suid-Afrikaanse naelloper Wayde van Niekerk aan. “Wayde gaan op die baan met ’n gesindheid van hy het niks om te verloor nie, en as ons kyk na die atlete se voorbereiding tot hier, het ons reeds soveel gewen in die groei van dissipline, harde werk, deursettingsvermoë en ons Tungu-gees van vasbyt en nooit, ooit opgee nie.”
V Die 2023-Dis-Chem-interskole het reeds Dinsdag (31 Januarie) begin. Vrydag sal die spanne met ’n opwindende optog op die baan van PV om 07:30 aankom voordat die eerste item om 08:30 begin.



