Atletiekkoors loop hoog vir Vrydag (7 Februarie) se interskole-kragmeting!
Die Hoërskool Strand, Hottentots-Holland en Parel Vallei berei hard voor vir die jaarlikse Dis-Chem-interskole atletiekbyeenkoms wat Vrydagoggend by Parel Vallei in Somerset-Wes plaasvind.
Die takbestuurder van Dis-Chem Somerset Mall, Daniel du Toit, sê: “Dit is ’n voorreg om vir die 18de jaar betrokke te wees by ’n sportgeleentheid wat ’n gesonde en aktiewe leefstyl bevorder. Ongeag wie wen of verloor – net die deelname van meer as 600 atlete maak van almal kampioene.”
Vir die spankapteins is hierdie ook die afsluiting van ’n atletiekloopbaan by hul onderskeie skole. Elkeen sal sy of haar span met ’n spesiale boodskap om die baan in die tradisionele optog lei.
“2 Timoteus 2:5: ’n Atleet wat aan ’n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.
“Alleen kan ons so min doen; saam kan ons soveel doen. Wanneer daar spanwerk en samewerking is, kan groot dinge bereik word en ons mag nie die sterkste wees nie, maar saam is ons onbreekbaar. Moet nooit vergeet dat daar nie verloor word nie, net geleer; daar is geen mislukking nie, net geleentheid. Daar is geen probleme nie, net oplossings. Daar is geen beperking op wat ons kan bereik wanneer ons saamwerk, in mekaar glo en nooit opgee nie. Laat ons dus tot die uitdaging toetree, laat ons dit laat gebeur en laat ons saam grootheid bereik!” bemoedig Hottentots-Holland se atletiekspankapteins Amaarah Valentine en Joshua Jacobs.
Die Hoërskool Strand se spankapteins Nilene Bezuidenhout en Gerber de Goede deel hierdie boodskap: “Dit is ’n groot eer om deel te wees van die Hoërskool Strand se interskolespan vir 2025! Atletiek is meer as net ’n sport – dit is ’n platform om jou passie, uithouvermoë en trots uit te leef. Elke tree wat jy neem en elke sprong wat jy maak, dra by tot jou storie en dié van ons skool.
“Hierdie dag is ’n geleentheid om nie net jou talent te wys nie, maar ook jou karakter. Druk jouself tot die uiterste, maar onthou om die oomblik te geniet. Dit gaan nie net oor wen nie, maar oor groei, oor pret en oor trots wees op jouself.
“Vir sommige is dit die begin van ’n opwindende reis, en vir ander is dit die afsluit van ’n spesiale hoofstuk. Laat elke sekonde tel. Inspireer jou spanmaats, bou herinneringe en dra die Hoërskool Strand se naam met waardigheid en passie. Ons glo in jou – gaan uit en wees jou beste! Sterkte met die interskole van 2025!”
Die Hoërskool Parel Vallei se Tihanna le Roux sê: “Atletiek is ’n sport wat jou waardevolle lewenslesse leer. Dit leer jou om aan te hou, selfs wanneer jy nie jou doelwitte bereik nie. Dit leer jou om mee te ding – nie met ander nie, maar met wie jy gister was. Skoolatletiek is ’n geleentheid vir ons om ons talente te wys en dié van ander te waardeer en te vier. Maak seker dat Parel Vallei se Bloudraad sigbaar is in alles wat jy doen en mag dit ons verenig – nie net met ons mede-Bulldogs nie, maar met almal om ons.”
Le Roux se mede-spankaptein, JP van der Walt, voer aan: “Danksy ons span se vasberadenheid, deursettingsvermoë en deeglike voorbereiding is ons as trotse kapteins vas oortuig dat die 2025-interskole nog ’n jaar van sukses vir Parel Vallei sal wees.”



