Die Hoërskool Strand-dirigente met hul trofee vir “onvoorbereide dans”. Credit: Susan de Jager

Interhoër-atletiek 2026 sal gewis as ‘n uitsonderlike dag onthou word.

Die Hoërskool Strand het die voorreg gehad om hierdie prestige-byeenkoms aan te bied. Die hoërskole Curro Hermanus, Parel Vallei en Meridian Pinehurst het saam met die gasheerskool aan ‘n dag vol atletiek, gees en skooltrots deelgeneem.

Elke atleet het met toewyding, deursettingsvermoë en trots meegeding en hul beste prestasies op die baan gelewer. Die pawiljoen was lewendig met hul ondersteuning, sang en aanmoediging, terwyl die oggend se optogte ‘n besondere hoogtepunt was wat die ware gees van interhoër vasgevang het.

Ten spyte van die warm weersomstandighede het die energie en entoesiasme nooit afgeneem nie. Atlete het hul skool se naam met eer en trots verteenwoordig – ongeag die uitslae.

Dit was sportmanskap en skooltrots op sy beste.

‘n Besonderse aspek van die dag was die feit dat die atlete en pawiljoenspanne tot reg aan die einde gebly het – selfs tot ná die prysuitdeling.

Die volgehoue gees en ondersteuning het die byeenkoms werklik spesiaal gemaak.

Die Hoërskool Parel Vallei word hartlik gelukgewens met sy oorwinning as algehele wenner van die dag – ‘n puik prestasie waarop hy met reg trots kan wees.

‘n Opregte woord van dank gaan ook aan alle ouers, ondersteuners en betrokkenes wat bygedra het tot die sukses van die dag. Jul teenwoordigheid en ondersteuning het ‘n onmisbare rol gespeel.

Met Interhoër-atletiek 2026 as maatstaf sien die skole reeds met groot opgewondenheid uit na volgende jaar se byeenkoms – dit gaan ongetwyfeld nóg meer besonders wees.

Arende in allerbeste atletiek-aksie

Meridian Pinehurst se magtige prestasies

PV skitter as wenner

PV het as algehele wenner van die Interhoër-atletiek 2026 weggestap! Die trofeewenners (agter, van links) is Jessica Khohlakala, Jan-Paul Herselman, Ryan Mbirimi, Stephan Malan; (voor) Lillie Pacquet, Selmarie Erasmus, Danielle Bruyns, Nikita Sullivan, Zani van Wyk en Lindo Gwala.
Minke Ferreira het deurgedruk vir haar span se oorwinning.
In volle vlug! Kaylee van der Westhuizen trek deur die lug met perfekte styl.
Chiara Leotta toon ritme, krag en perfekte tydsberekening in ‘n naelbyt hekkies-wedloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article