’n Onderwys-grote het onlangs finaal gegroet.

Thomas “Tommy” Davids het Vrydag 28 Junie ná ’n siekbed sy laaste asem uitgeblaas. Sy gesin was aan sy sy by Helderberg-hospies in Somerset-Wes en het dit as “die einde van ’n era” beskryf.

Davids, ’n boorling van Pniël in die Boland, met ’n lewenslange passie vir onderwys en vir sy gemeenskap, het sy ganse beroepslewe van meer as 30 jaar aan voorskoolse, primêre asook sekondêre onderwys gewy.

Hy is op 2 November 1941 gebore en het hom aan die destydse Hewat-onderwyskollege in Kaapstad as onderwyser bekwaam. Sy onderwysloopbaan het in 1963 aan die Albert Myburgh Sekondêre Skool in Bredasdorp begin. Hy het op 3 Februarie 1967 trou beloof aan Elize, ’n boorling van Stanford en onderwyseres by Medland Primêr.

Daarna het hy ’n pos aan die Luckhoff Sekondêre Skool in Idasvallei, Stellenbosch, aanvaar.

In die vroeë sewentigs het hy ’n pos aan die Bergrivier Sekondêre Skool aanvaar en na Newton, Wellington, verhuis.

In die laat sewentigs het hy hom in die primêre-onderwys-sektor begewe en ’n pos as prinsipaal van ’n vyf-man-skool by Rust Stasie NGK Primêr, tussen Moorreesburg en Malmesbury, aanvaar. Hier het hy talle take, buiten sy pligte as klasonderwyser van grade vyf en ses, asook as skoolhoof, verrig.

Take soos skoolbusbestuurder, noodhulpbeampte, rugbyafrigter en skeidsregter, katkisasiemeester en diaken is aan hom toevertrou, terwyl die Davids-gesin slegs 50 meter van die skoolgebou af gewoon het. Intussen het hy ook deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) studeer en sy BA-graad in opvoedkunde vroeg in die jare tagtig verwerf.

In 1982 het hy die pos van prinsipaal aan die OJ Erasmus NGK Primêre skool in Kalbaskraal aanvaar. Hy is kort daarna na Saxon Sea Sekondêre Skool in Atlantis as adjunkhoof gesekondeer. Met die skielike uittrede van die hoof van daardie skool, het hy die tweede skoolhoof van Saxon Sea Sekondêr geword.

Davids is in die vroeë 1990’s as inspekteur van skole (deesdae kringbestuurder) in die Weskus-onderwysdistrik aangestel – ’n pos wat hy tot en sy aftrede in 1996 beklee het.

Hy was ook ’n bestuurslid van die Kaapse Professionele onderwysersunie (KPO) onder leiding van dr. Franklin Sonn, in lewe rektor van die Skiereilandse Technikon en later ambassadeur in die VSA. Ander lede het ingesluit Andrew de Laura, die destydse skoolhoof van Schoonspruit Sekondêr, Chris Goliath (oudburgemeester van Malmesbury) en ander onderwyskollegas soos Gilbert Messina, Dolly Marais, Randall van der Heever, George Strauss, David Piedt en andere.

Davids se passie vir kleuterskoolonderrig het tot gevolg gehad dat hy minstens drie kleuterskole in sy tyd help stig het, onder andere in Idasvallei Stellenbosch, Stepping Stones in die Paarl en Vrolike Vinkies in Malmesbury. Hy was ’n lid van Die Stigting vir Gemeenskapswerk (FCW) onder leiding van Beulah Fredericksen en was ook ’n aktiewe lid van die organisasie.

Volgens sy seun, Ervin Davids, was sy pa ’n man van integriteit, inbors, empatie vir minderbevoorregtes en trots op sy herkoms. Hy het nie geskroom om sy personeel, kollegas en selfs senior skoolhoofde aan te spreek oor ongedane sake nie en sal nog lank daarvoor onthou word.

Davids word oorleef deur sy vrou van 57 jaar, Elize, drie kinders, sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders.

’n Seder het geval; mag sy geëer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article