Familie en vriende het verlede Saterdag (4 Mei) hul laaste eer aan Franscois Gordon, ’n plaaslike jongman wat in die fleur van sy lewe ’n dapper stryd teen kanker verloor het, betoon.
Die 30-jarige van Macassar is Woensdagmiddag 24 April aan maagkanker oorlede en sy gesin is in rou gedompel deur die hartverskeurende verlies van ’n voorbeeldige seun wat ’n lewe van krag en impak gelei het.
Volgens sy pa, Mark, was sy geliefde seun ’n ware mense-mens met ’n groot hart en passie vir kinders, en wie se teenwoordigheid veral gemis gaan word omdat soveel ander verkies het om in sy nabyheid te wees.
Die eersgeborene is op 17 Februarie 1994 in die wêreld verwelkom en het later sy skoene as ouer broer vir twee jonger sibbe volgestaan.
Hy het sy skoolloopbaan in 2001 by Pineview Primêre Skool in Grabouw begin en in 2002 as ywerige leerder by Firgrove Primêre Skool voortgesit. Franscois het in 2012 aan die Hoërskool Zandvliet in Macassar gematrikuleer.
Ná skool het hy sy tersiêre studies aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie aangepak en as gekwalifiseerde tandheelkundige tegnikus graad gevang.
’n Hoogtepunt in sy lewe was gewis dat hy sy studies met sukses voltooi het en in sy werk altyd sy beste gedoen het.
Sy nalatenskap is dat hy as ’n vurige aanbidder die Here met lof en prys gedien het en sodoende God se bekendheid bevorder en menige gemeenskapslid se lewe aangeraak het.
“Ons koester sy menswees; Hy was net die perfekte outjie. Bloot ’n mooi siel,” deel die ouer met trots.
Mark het sy seun beskryf as iemand wat saggeaard, maar ferm kon wees wanneer nodig; wat jy deur ’n ring kon trek omdat hy so pynlik netjies was; en ’n jong man wat ’n bewonderenswaardige lewenslus gehad het. Hy doen ’n beroep op ander ouers om na hul kinders te luister en, hoewel daar nie ’n handleiding is oor hoe om ’n kind groot te maak nie, hulle op die beste manier – in die vrees van die Here, voete ferm op die grond en in onvoorwaardelike liefde – groot te maak.
Franscois word oorleef deur sy ouers, Mark en Karin, sy broer, Kaylim, en sy suster, Hope sowel as sy verloofde, Famke Etson, met wie hy vroeër verlede maand (April) in die huwelik sou tree.




