Die gewilde Good Life Show word vanaf Vrydag 31 Mei tot Sondag 2 Junie by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangebied.
Die skou bied vier afsonderlike skoue onder een dak – The Plant Powered Show, Natural & Organic Show, Free-From Show en Sustainex – aan. Die Good Life Show is oop vir almal wat op soek is na ’n gesonder, meer volhoubare en eko-bewuste leefstyl, sowel as voedselentoesiaste wat gretig is om nuwe, innoverende, opwindende bestanddele te verken.
Vir meer inligting oor die skou en al sy aanbiedings, besoek gerus goodlifeafrica.com.
Hier is ’n paar resepte wat deur vorige besoekers aan die skou gedeel is:
Avokado, basiliekruid en suurlemoen pasta
Hier is iets vars, vinnig, en heerlik gedeel deur @aliyasvibrantlife van die 2023-Plant Powered Show.
Jy benodig:
• 200 g volkoring spaghetti
• 2 ryp avokado’s, gehalveer, ontpit en geskil
• ½ k vars basiliekruidblare
• 2 knoffelhuisies
• 2 e vars uitgedrukte suurlemoensap
• sout en vars gemaalde swartpeper, na smaak
• ? k ligte olyfolie
• 1 k kersietamaties, gehalveer
• 1 k murgpampoentjies, rou en gerasper
• sap en skil van ½ suurlemoen
Só maak mens:
1. Kook pasta volgens aanwysings op die pakkie, in ’n groot pot kookwater met sout en dreineer dan goed.
2. Om die sous te maak, blits die avokado’s, basiliekruid, knoffel en suurlemoensap in ’n voedselverwerker tot glad. Geur na smaak.
3. Met die masjien aan die gang, giet stadig die olyfolie in totdat dit geëmulgeer is.
4. Om te bedien, kombineer die pasta, avokadosous, kersietamaties en gerasperde murgpampoentjie. Meng goed en sprinkel ’n bietjie meer suurlemoensap oor en rasper van die suurlemoen skil oor. Bedien dadelik.

Lensie-herderspastei
Hierdie gereg, deur Rea – The Cooking Dietician, is ryk, souserig, en vol geur, sowel as proteïen en vesel, wat dit ’n uitstekende plaasvervanger vir tradisionele vleisgeregte maak. Om nie te praat van die romerige en donsige kapokaartappel-bolaag nie – hemels! Probeer hierdie gereg vir enige geleentheid en jy is gewaarborg om tevrede en vol energie te voel.
Bestaandele:
• 4 medium aartappels, geskil en in blokkies gesny
• 2 k klappermelk
• 50 g Flora Plant-smeer
• 2 k bruin lensies, (vooraf vir 30 minute in warmwater geweek)
• ¼ k ui, fyn opgekap
• 50 ml olyfolie
• 3 k McCain ertjie, wortel en mielie- gemengde groente
• 1 k groenteaftreksel
• 1 k tamatiepuree
• 2 e paprika
• 2 e komyn
• 2 e gedroogte kruie
• sout en peper
Metode:
1. Plaas die aartappels in ’n pot en bedek met water. Plaas die pot op die stoof en laat dit kook totdat die aartappels sag is. Dreineer die oortollige water sodra die aartappels gaar en sag is.
2. Voeg die klappermelk en margarien by die aartappels en maak fyn totdat die aartappels sag is. Rond af deur met ’n bietjie sout en peper te geur en plaas die fyn aartappels eenkant.
3. Verhit die olie in ’n pot en soteer die gesnyde uie totdat dit gaar en deurskynend is.
4. Voeg die vooraf-geweekte lensies by sodra die uie gaar is en soteer vir nog ’n paar minute.
5. Voeg die geurmiddels by die lensies, roer goed om te verseker dat die geurmiddels goed meng.
6. Voeg die groenteaftreksel en tamatiepuree by en bring tot kookpunt.
7. Verminder dan die hitte en laat die lensies vir 15 tot 20 minute prut.
8. Voeg die gemengde groente by sodra die lensies gaar en sag is en geur met ’n bietjie sout en peper.
9. Laat die lensies vir nog vyf minute prut om die gemengde groente te laat kook, verwyder dan van die hitte en laat die lensiestoofpot afkoel voordat jy die herderspastei saamstel.

Vegan malvapoeding met amandel-roomys
As jy na iets soet en dekadent op soek is, probeer hierdie heerlike vegan-resep deur Palesa Mokhafola, ’n finalis in The Plant Powered Show/SA Sjefs-kompetisie vir 2022.
Jy benodig:
– Vir die malvapoeding
• 2 k alledaagse meel
• 1½ k wit suiker of xylitol
• 1 tlp bakpoeier
• 1 tlp koeksoda
• ½ tlp sout
• 1 e wit asyn
• ½ k sojamelk
• ½ k appelsous
• 2 e gladde appelkooskonfyt
• 2 e klapperolie, gesmelt
– Vir die sous
• ½ k Flora Plant-baksmeer
• ¾ k wit suiker of xylitol
• 1 k geblikte klapperroom
• 1 tlp vanieljegeursel
– Vir die amandel roomys
• 10 ml vanieljegeursel
• 700 ml amandelmelk
• 150 g agave stroop
• 75 g amandels, gerooster en grof gekap
Só maak mens:
1. Vir die roomys – Voeg al die bestanddele in ’n bak en meng goed voordat jy dit alles in ’n roomysmaker gooi.
2. Klits dit vir tussen 30 en 40 minute, of totdat dit verdik het en baie glad is.
3. Gooi die mengsel oor in ’n houer met ’n deksel en sit dit in die vrieskas om te stol, vir ten minste twee ure.
4. Haal die roomys vyf minute voor bediening uit, om dit effens sagter te maak en dit makliker te maak om te skep.
5. Vir die malvapoeding: Verhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n vierkantige bak met nie-kleef sproei. Plaas eenkant.
6. Sif die meel in ’n mengbak en voeg die suiker, bakpoeier, koeksoda en sout by en meng saam.
7. Voeg die wit asyn by die sojamelk en laat dit skif. Voeg dit dan met die appelsous, appelkooskonfyt en klapperolie by en meng tot ’n beslag. Gebruik kortliks ’n handklitser om enige groot klonte te verwyder. Dit is oukei as die appelkooskonfyt nie heeltemal gemeng is nie en daar ’n paar klein klonte is.
8. Gooi die beslag na jou voorbereide bak en bak vir 35 minute of totdat ’n tandestokkie wat in die middel van die koek ingesteek word, skoon uitkom.
9. Wanneer die malva amper klaar is met kook, begin met jou sous. Voeg die botter in ’n kastrol en smelt dit. Voeg die suiker en klapperroom by en verhit saam totdat dit prut, roer die hele tyd. Verwyder van die hitte en voeg die vanieljegeursel by.
10. Wanneer die malva uit die oond kom, maak oral gate met ’n tandestokkie en gooi dan die sous oor; maak seker dit is eweredig oor die hele poeding versprei. Laat die sous intrek en sny dan in vierkante.
11. Bedien warm, met amandel roomys.



