Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en -polisie hou op 19 Mei ’n gemeenskap-imbizo om misdaad in sektor een te bespreek. 

Die vergadering, wat by die Bethesda Evangelical Church in Broadlandspark van 17:00 tot 19:00 gou sal word, gee inwoners die perfekte geleentheid om hul bekommernisse en kwessies rakende misdaad in die omgewing met die GPF en die polisie te bespreek. Die Imbizo spruit uit ’n vorige vergadering wat die Strand-GPF op 28 April gehou het om brandpunte in sektor een te bespreek. Stappe wat gedoen kan word om misdaad in die brandpunte te verminder, is ook bespreek.  

Niklaas Thysen, die Strand-GPF-woordvoerder, sê van die groot brandpunte is Broadlandspark, Casablanca, Sercorpark, Gustrouwpark en die Erijaville-gemeenskap in Rusthof.  “Sporadiese skietvoorvalle vind gereeld in die week en oor naweke plaas – veral in Broadlandspark, Casablanca en Erijaville. Rooftogte by dié drie brandpunte vind ook gedurig in die oggendure voor 05:00 en saans plaas,” sê Thysen. Hy bevestig die polisie is bewus van al die voorvalle en hul patrollies is verskerp om meer sigbaar in dié gebiede te wees. 

Matilda Willemse, die voorsitter en koördineerder van die Gustrouw-buurtwag, sê in Gustrouw vind verkragtings soms helder oordag plaas en die buurtwag en polisie dra geen kennis van die sake nie. “Die Gustrouw-gebied was voorheen rustig. Misdaad het buite ons omgewing gebeur, maar deesdae vind dit binne Gustrouw plaas. Moord het van 2018 af egter in ons gebied begin styg. Ons moet die waarheid in die oë kyk – ons kan nie daarvan wegbeweeg nie. As jy saans gaan slaap, hoor jy skote klap. In die dag klap die skote. Ons wil ons omgewing weer in ’n veilige hawe omskep,” sê Willemse. 

Sy sê moord, verkragting, dwelmhandel, menseroof, huis-inbrake, motor-inbrake en dobbelary is misdade wat in Gustrouw seëvier. 

“Dwelms is die groot bydraende faktor in die misdade wat gepleeg word, want daar word by die mense se huise ingebreek om waardevolle items of geld te steel om dwelms te koop. Mense word in die strate beroof en die buit word verkoop om geld vir dwelms te kry. So, dwelms is die middelpunt van al die misdade in ons omgewing,” voeg sy by.  

Volgens Apostel Manfred Jumat, voorsitter van Broadlandspark se buurtwag, is die misdaad in Broadlandspark nie net ’n bron van kommer vir menige inwoner nie, maar ook vir die buurtwag wat probeer om misdaad te bekamp. “Verskillende misdade word gepleeg, maar dié wat oorheers, is onder andere die bendegevegte waar skietery gewoonlik die vernaamste metode is; dwelmverkope is soos ’n daaglikse werk waar veral jonger kinders, wat nie meer wil skoolgaan nie, gebruik word om verkopers te wees. Jongmense drom gewoonlik op straathoeke en winkels se stoep saam. As jy hierdie tekens sien, kan jy maar aanneem iewers is dwelms en vuurwapens in omgang,” vertel Jumat.

Hy sê gewapende roof en aanranding kom ook gereeld voor – veral waar mense soggens vroeg en saans laat tussen die werk en huis moet beweeg.

“Broadlandspark is bekend vir sy skietvoorvalle enige tyd van die dag of nag, en vir ons as buurtwaglede is dit soms te gevaarlik om normale patrollies soos in ander gebiede te doen. As buurtwagte maak ons dikwels gebruik van ander metodes om die oë en ore van ons gemeenskap te wees. Skietvoorvalle vind so gereeld plaas dat dit mense nie eens meer afskrik nie. Dit het al die norm geword, want selfs grootmense sowel as kinders hardloop na skiettonele toe eerder as om te vlug.

”Volgens Thysen is een van die maklikste maniere om misdaadsyfers af te bring, om bewusmakingsprogramme by al die buurtwagte te ontplooi in samewerking met die polisie en al die onderskeie veiligheidsmaatskappye om misdaad en ander verwante voorvalle die hoof te probeer bied. 

Volgens Willemse gebruik die Gustrouw-buurtwag sport om jongmense te motiveer om hulle weg van die verkeerde dinge te hou. “Ons beoefen van 2018 af die Sports Against Crime-veldtog. Ons betrek rugby-, netbal- en sokker-spanne. Ons doen ook iets vir leerders wat lief is vir karate. Ons het die wenspanlede elkeen ’n sertifikaat en ’n medalje gegee. Die Gustrouw-omgeegroep het ook vir elkeen ’n sertifikaat gegee. Elkeen het op daardie dag ’n warm maaltyd geniet. ”Een keer ’n week gee die buurtwag ’n warm maaltyd aan lede van die gemeenskap. “Ons kry ’n geleentheid om na ons gemeenskap uit te reik om te verseker hulle gaan steel nie omdat hulle honger is en nie kos in die huis het nie,” sê Willemse.    

Volgens Thysen wil die Strand-GPF ook jong mans en vroue inspireer om by die polisie en die GPF aan te sluit. “Ek wil die jong mans en vroue, asook die werklose jeug wat gematrikuleer het, om as reserviste by die polisie aan te sluit sodat hulle hul opleiding kan voltooi en in hul gemeenskap deur middel van veiligheidspatrollies kan help.” 

Hy sê die imbizo, wat binnekort geskied, sal hopelik ook die onderskeie gemeenskappe inspireer om by die GPF se misdaadvoorkomingsprogramme aan te sluit. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article