’n Helderbergse bejaarde, wat ter viering van sy verjaardag heeltemal teen die grein gegaan het, is ’n bewys dat ’n mens ten spyte van jou ouderdom steeds die wonder van kind wees kan koester en net so oud is soos jy voel.
Die Gordonsbaaise pensioentrekker Billie du Preez het verlede Sondag (15 Januarie) 89 geword, en in plaas van ’n tradisionele partytjie wat soos gewoonlik ’n stukkie koek en ’n koppie boeretroos saam met familie en vriende insluit, het dié hupse oupagrootjie die mylpaal met ’n uitstappie na Elgin gevier en op die foefieslaaid gegly – dít nadat twee van sy drie dogters die uitdaging al baasgeraak het en hy nie by die huis saam met mense partytjie wou hou nie!
Volgens sy dogter Susan Potgieter het die sussies voorgestel hul geliefde pa hou ’n verjaardagpartytjie by sy huis, maar Billie het die idee afgekeur met die meer waaghalsige wens om liewer die foefieslaaid aan te durf.
Sy het toe ’n e-pos aan Cape Canopy Tours gestuur, wat opwindende zipline-ervarings te midde van skouspelagtige natuurlike omgewings bied, om reëlings te tref.
“Hulle het ’n 75-jaar-ouderdomsperk gehad, maar by uitsondering kan iemand wat ouer is en ’n mediese sertifikaat het, wel toegelaat word,” het Susan aangevoer. “Ek het my pa ingelig en die volgende oggend het ons net die oproep gekry – hy was by die dokter, het die sertifikaat, wie gaan saam?”
Met die waaghalsige avonturier in Billie losgelaat, het die bejaarde saam met Susan, haar man, Bram, en haar suster, Hildred Ferreira, die foefieslaaid gewys wie is baas.
“Die ervaring was fantasties!” het Billie gesê.
Net die laaste kilometer se uitklim na bo was erg, maar die ywerige bejaarde het nie opgegee nie – inteendeel, hy het die spanlede laat uithaal en wys om by te hou.
Sy waarskynlik waaghalsige kant word aangewakker deur die natuurliefhebber se talle avonture wat hy in sy jonger dae beleef het. Billie het as jongeling baie berg geklim – die Kruiskop en Pieke. Hy het ook graag met sy fiets van Paarl af saam met vriende Saldanha toe gery om te gaan visvang en die ongelooflike natuur soos die asemrowende klowe en fynbos van die Overberg bewonder.
Op die vraag of hy enigsins ’n bang haar op sy kop het, het hy grappenderwys gesê: “Daar is nie ’n bang haar op my kop nie, want ek het nie eintlik hare nie! As die zipline as waaghalsig beskou word, dan is dit seker!”
Billie is as een van vier kinders – drie broers en ’n suster – in Riebeeck-Wes gebore. Dié Gordonsbaaise pensioentrekker, wat die tweede jongste was, het slegs ’n broer wat nog leef.
Voor sy aftrede in 1993 het hy as ’n pligsgetroue werknemer 40 jaar aan ’n groot maatskappy gewy. Hy en sy oorlede vrou het ná sy aftrede baie rondgereis en was saam betrokke by organisasies soos Geluksoord in Stellenbosch, die Groenleegte-aftreeoord in die Paarl, Probus-klub (’n klub vir afgetrede professionele mense en sakelui), en dié wat blindes landwyd verteenwoordig.
Billie deel hierdie wyse woorde met ander plaaslike bejaardes: “Moenie stilsit nie. Terwyl jy kan, moet jy dinge vir jouself doen en ook jou medemens help waar jy kan.”
Billie self bly besig: werk in die tuin, is betrokke by Summervale, kyk ballet in die Kunstekaap en toer.
“ ’n Mens moet aan die gang bly,” het die lewenslustige bejaarde, wat steeds daarvan hou om nuwe dinge te probeer en te doen, gesê.
Billie bestuur op sy ouderdom sy eie finansies en bestuur aandele op sy rekenaar, waarop hy grafieke trek en databasisse opstel.
“Hy maak ons as kinders moeg!” het Susan beaam.
“Hy het drie dogters, vier kleinseuns en twee agter-kleindogters, wat dink Oupa is fantasties! Ons bewonder sy lus vir die lewe en sy volgehoue energie! Ons is almal super trots op hom!”



