’n Ma van Macassar en haar seun het hulle tot die koerant gewend nadat die 21-jarige en sy vriend tydens ’n beweerde klopjag by ’n smokkelhuis in Grabouw glo die slagoffers van polisiewreedheid was.
Berenice Ruiters sê haar seun, Brenwill Roman, sterk steeds aan ná die lewensbedreigende aanval deur beweerde polisiebeamptes, wat Saterdag 24 Junie op die Lakeside-smokkelhuis in Pineview-noord toegeslaan het. Roman woon by familie in die Overbergse gemeenskap en het Saterdagaand glo saam met sy vriend by die smokkelhuis gekuier. Die twee het voor middernag besluit om na die smokkelhuis, wat ’n klipgooi ver is, te loop vir nog drank. Met hul aankoms by die drinkplek, wat agter Mintstraat geleë is, was daar ’n groot polisieteenwoordigheid. Hulle is glo in die oprit deur polisiebeamptes genader en deursoek.
“Nadat hulle ons vir onwettige besittings deursoek het, is ons beveel om eenkant te staan. Daarna het nog polisiebeamptes ons genader, van wie een wat gesien het ek staan met my hande in my sakke, gevra het, ‘Hou d’jy jou ’n ou?’ Hy het my herhaaldelik geklap nog voordat ek ’n woord kon uitkry. Ek het probeer keer, maar hy het my wind uitgeslaan. My vriend se pogings om intussen te probeer verduidelik dat ons nie deel was van wat moontlik vooraf by die smokkelhuis afgespeel het nie en nou net daar aangekom het, het misluk. Hulle wou niks hoor nie. Trouens, die een polisiebeampte het gesê ‘o, jy hou jou ook ’n ou’, die agterkant van ’n snoekerstok afgedraai en hom herhaaldelik daarmee bygedam,” herroep Roman.
Hy vertel voorts dat hulle toe met geweld deur die polisiemanne in ’n vertrek saam met tussen 20 en 30 ander gedwing is. Tydens wat waarskynlik ’n klopjag was, is Roman en die vriend grond toe gedwing en verder aangerand.
“Terwyl ons plat op die grond gelê het, het hulle ons steeds geslaan en geskop en party ander selfs met voorwerpe, insluitend vuurwapens en pangas, geterroriseer en getref,” vertel Roman.
Die jongeling het glo op een tydstip opgekyk nadat ’n jong man, wat aan hom bekend is en in dieselfde straat woon, herhaaldelik uitgeroep het “eina!”, en is deur ’n polisiebeampte in die gesig terug grond toe getrap. Sy oog is lelik deur gebreekte glas wat op die vloer gelê het en die ongelyke teëls gesny.
“Al waaraan ek gedink het, is dat ek daar wil uit en by die huis wil kom. Ek het weer ’n keer opgekyk is en met pepersproei gespuit. Ek het toe liewer platgelê.”
Volgens Roman het van die ander slagoffers daarin geslaag om die polisiebeamptes – terwyl hulle die kamer verlaat het om die drank waarop hulle beslag sou lê, bymekaar te maak – uit die vertrek te sluit. Van hulle het daarin geslaag om deur ’n venster te ontsnap.
Die polisie het die slagoffers, wat tussen die informele wonings probeer vlug het, agternagesit en namate hulle die strate ingevaar het, glo ’n rubberkoeëlreën afgevuur.
Roman het daarin geslaag om na sy tuiste in Granny Smith-straat te vlug en is later na die Grabouw-daghospitaal geneem. “Dit was soos ’n toneel uit ’n fliek wat in die rustige woonbuurt afgespeel het,” sê Roman, wat saam met die gewonde kennis in ’n ambulans gelaai en na die mediese fasiliteit vervoer is.
Roman het 15 steke bo die oog en drie vir ’n snywond aan die voorkop ontvang. Die kennis het vir onder meer ’n skietwond aan sy heup behandeling ontvang.
Albei slagoffers het die voorval by die Grabouw-polisie aangemeld.
Kapt. Raldeen Atson, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak met twee klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer is deur die Grabouw-polisie geopen. Die saak is intussen na die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) vir ondersoek oorgeplaas. ’n Navraag is aan Opod gestuur, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.
Volgens Roman is hy diep ongelukkig oor die wreedheid van die polisie wat veronderstel is om mense te beskerm.
“Ek het ’n lewenslange knou weg,” meen die jongeling, wat hoewel sy fisieke beserings sal genees, steeds aan diep letsels weens die trauma ly.
Sy ma meen die wrede polisiebeamptes het haar seun se lewe verwoes. “In Grabouw is daar geen programme en doendinge vir jeugdiges nie. So, hulle kuier om hulself te vermaak. Maar, die opsetlike geweld waarmee die polisiemanne teenoor die jong seuns opgetree het, is onaanvaarbaar. As jy hulle ’n les wil leer, by all means, maar hulle wou kinders seermaak,” sê Ruiters.
“Ons wil hê dít wat in Grabouw gebeur het, moet stopgesit word, want te veel polisiebeamptes gebruik eie reg en kom weg met onwettige dinge omdat hulle glo hulle is above the law.
“My kind is ’n kranige rugbyspeler wat deesdae vir die Spring Roses RFC uitblink, en my grootste vrees is dat hy ’n besering op die rugbyveld opdoen – nie deur die polisie nie.
“Ons gaan nie toelaat dat die saak toegesmeer word nie.”



