’n Styging in huisrooftogte in Broadlandspark, Sercorpark en Gustrouw wek kommer by die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die polisie.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig Broadlandspark, Sercorpark en Gustrouw is drie gebiede wat deur huisrowers geteiken word.
Twee van die huisrooftogte het op Dinsdag 6 September in onderskeidelik Sercorpark en Rusthof plaasgevind.
In die eerste geval, wat omstreeks 04:25 plaasgevind het, was die klaagster aan die slaap toe sy hoor iemand probeer haar woning se deur oopskop.
Volgens Beukes het sy opgespring en gaan kyk wat aan die gang was toe sy op drie onbekende mans in haar leefvertrek afkom. Die klaagster het haar in haar kamer gaan toesluit en later, toe dit stil word, het sy uitgegaan en gesien haar televisieskerm, selfoon, werkklere en skoene is weg.
Die polisie is steeds op soek na die verdagtes in dié huisroof.
Die tweede voorval was ’n uur vroeër om 03:40 in Rusthof toe vier verdagtes met maskers die deur van ’n man se huis oopgeskop en die slagoffer met ’n mes aangehou het.
Volgens Beukes is die klaer se selfoon, ’n leer en sy mikrogolfoond gesteel.
Die verdagtes het weggehardloop en niemand is nog weens dié voorval in hegtenis geneem nie.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum sê die GPF is bekommerd oor die vlaag inbrake wat tans in sektor een voorkom.
“Ons is besig met gesprekke tussen die polisie en wetstoepassers om te verseker dat meer gereelde patrollies in die problematiese gebiede gedurende die tye wanneer rooftogte plaasvind, gehou word,” sê Thysen.
Die Strand-GPF het die polisie ook versoek om meer gereeld voorkeer- en ondersoek-optredes te doen.
“Ons doen ook ’n beroep op die gemeenskap om met die polisie en die GPF hande te vat om die voorvalle aan meld.”
Beukes vra ook inwoners om meer veiligheidsbewus te wees.
“Dit is juis inisiatiewe soos die onderskeie buurtwagte wat help om die woonbuurte veiliger te maak. Maar diewe is opportuniste en teiken inwoners waar minder of verslapte veiligheidsmaatreëls toegepas word.
“Inwoners word aangeraai om ekstra beveiliging by hul woning aan te bring,” sê Beukes.


