Herman Janse van Renburg (hoof) en Benji Hobley oorhandig die Adelle Hobley-trofee aan Tanyta Oliver, die skool se toppresteerder.


Leerders en personeel van Hoërskool Valsbaai het Vrydag 17 Januarie byeengekom vir ’n dubbele viering – ’n spesiale prysuitdeling vir die matrikulante van 2019 en die skool se 21ste verjaarsdag.

Dit was ’n oggend van groot viering en almal het heerlik aan ’n spesiale koek gesmul wat ter viering van die skool se mylpaal-verjaardag deur ’n onderwyser, Claerwen MacInture, gebak is.

Die skool se top-gr. 12-leerder, Tanyta Oliver, het uitstekend in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen gevaar. Sy het ’n A-gemiddelde behaal met onderskeidings in Engels, Afrikaans, wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering, geografie en geskiedenis asook 79% vir lewenswetenskap en die Adelle Hobley-trofee ontvang.

Hobley was ’n leerder aan die skool wat verlede September verongeluk het. Die trofee is ingestel om haar te gedenk en word aan ’n leerder van die skool gegee wat “daardie ietsie ekstra” het en afgesien van hindernisse steeds sukses behaal.

Goue medaljes is ook aan die ander topmatrikulante – Keenan Arendse, Leigh Williams, Zoe Julies en Joniya Kaufman – oorhandig, asook aan die deeltydse kandidaat Benjamin Tromp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article