“Ek het nog nooit iets so wreed en onmenslik aanskou nie. Die gereg moet sy gang gaan en Olof moet weet dat ons vir haar veg.”

Só meen ’n bedroefde Helena Burger, wat steeds steier weens skok nadat die vierpotige vriend waarvoor sy baie lief geword het ten aanskoue van haar en ander omstanders na bewering doodgemartel is.

Die 58-jarige ooggetuie soek geregtigheid vir die hond wat weens ondenkbare wreedheid deur haar bejaarde eienaar se vermeende kurator gevrek het. Die beweerde aanval op die basterhond het by die eienaar se huis in die Van Ryneveld-woonbuurt, Strand, afgespeel. Die huis word tans verhuur en Burger woon saam met haar dogter (35) en kleinseun (11) in ’n blyplek op die perseel, waar Olof as geliefde beskermer deur hulle en medehuurders in die hoofhuis versorg is.

Die hulpelose omstander het in teenstand van die dieremishandeling tydens die voorval haar selfoon uitgepluk en die grudade afgeneem. Die beeldmateriaal wys hoe die troeteldier glo met ’n tou gewurg en met ’n kombers gesmoor word.

’n Verdagte, die 66-jarige Mauritz Rossouw, wat glo kuratorskap oor die sake van Olof se eienaar het, is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hoewel omstandighede van die voorval onbekend is, speel dit teen die agtergrond van ’n uitsettingsbevel af wat Rossouw na bewering namens die huiseienaar teen Burger verkry het.

Volgens die Cape of Good Hope-dierebeskermingsvereniging het hulle Vrydag 15 Maart op ’n klagte tesame met die “ontstellende” videomateriaal wat wys hoe die hond aan ondenkbare wreedheid onderwerp word, gereageer. “In die video word gesien hoe Olaf onder ’n dik kombers sukkel, aangesien pogings waarskynlik aangewend is om haar te versmoor, en toe met ’n tou om haar nek geslaan en gesnoer is en na lug gesnak het terwyl sy met geweld deur ’n man vasgehou is.

“Die desperate pleidooie van haar versorgers het niks gedoen om hom te ontmoedig nie en teen die einde van die video blyk ’n slap Olaf dood te wees,” onthul ’n persverklaring.

Hoofinspekteur Jaco Pieterse sê: “Selfs as ’n gesoute inspekteur was die video moeilik om te kyk; geen dier verdien om so te ly nie. Sy moes vreesbevange, verward en in angs gewees het.”

Olof is na die Animal Welfare Society (AWS) Helderberg geneem. Volgens ’n AWS-woordvoerder was die hond reeds dood toe sy na die dierewelsynorganisasie gebring is en is amptelik dood verklaar.

“Die oorskot is deur die DBV afgehaal en ’n lykskouing, wat deur ’n kundige veeartsenykundige patoloog gedoen is, het bevestig dat sy dood is as gevolg van beserings wat met verwurging ooreen­stem,” lui die pers­ver­klaring.

Rossouw is verlede Woensdag (3 April) deur die Strand-polisie aangekeer. Die verdagte, wat glo ’n aanrandingsaak teen hom aanhangig het, sal vandag (Woensdag 10 April) weer op aanklagte van wreedheid teenoor diere in die Strand-landdroshof verskyn.

Volgens Burger het sy geweet toe Rossouw daardie oggend met twee werkers by die huis aankom en hy Olof met die vuis in die gesig geslaan en ’n gordel om haar nek gesit het “iets is nie reg nie”. “Maar ek het nooit geweet hulle sou dít aan haar doen nie. En ek kon haar nie red nie,” voer Burger aan terwyl sy teen die trane veg.

Sy deel dat die rifrug-boerboel-kruising die huiseienaar se oorlede seun se hond was. Olof het glo haar naam gekry omdat sy op ’n keer brandewyn uit sy glas wou slurp. Die huiseienaar het die troeteldier geërf nadat sy seun jare gelede in ’n motorfietsongeluk omgekom het. Hoewel Rossouw glo anders beweer, was Olof, volgens haar, die lieflikste hond wat nooit buitengewoon aggressief was nie.

“Sy het die eiendom en ons wat op die perseel woon, beskerm. Sy sou by die hekke blaf en tussen jou bene kom sit. As dit gereën het, het sy by ons ingehardloop om weg te kruip,” sê Burger.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article