Die moordsaak van Abdullah Daggia het ’n nuwe wending in die hof ingeneem toe die ma van een van die beskuldigdes deur die landdros in die saak gedagvaar is.
Die Rusthof-gemeenskap is Woensdag 18 Mei geskok gelaat ná die 33-jarige Daggia helder oordag glo vir sy selfoon doodgesteek is (“Vier vra borgtog ná twee moorde,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Mei).
In die saak wat al sedert die middel van die jaar sloer, het al drie die beskuldigdes, Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers, al hul borgtogaansoek teruggetrek en weer aansoek gedoen.
Volgens ’n betroubare anonieme bron by die Strand-landdroshof het Hammer se ma verlede Woensdag (19 Oktober) in die hof verskyn.
“Van die beamptes in die hof het gedink Sadia jok, want eers was haar verweer dat sy borgtog moet kry omdat sy terug huis toe moet gaan om haar vyf kinders en haar sieklike moeder te versorg,” sê die bron.
Verder het Hammers ook aangevoer dat sy nie vorige oortredings het soos die ander twee verdagtes nie.
“Sy (Hammers) het op ’n vorige keer getuig haar ma (Mary) sorg wel vir die kinders, en dis hoekom die hof haar ma gedagvaar het om te kom getuig dat sy wel self na die kinders omsien. Almal het gewonder hoekom weerspreek Hammers haarself en sê eers sy het self die kinders versorg en dat sy steeds na hulle kan kyk as sy borgtog kry.”
Volgens die bron het haar ma getuig Hammers sien wel om na haar kinders, maar toe sy deur die landdros in ’n hoek gedruk en ingelig word volgens die inligting voor die hof het Sadia jare terug laas gewerk, het Mary haar storie verander en erken sy sien om na die kinders omdat haar dogter nie finansiëel vir die kinders kan sorg nie.
“Die ma is bekommerd dat sy nie in die toekoms na die kinders sal kan omsien nie, omdat sy self te min verdien. Sy is deur die hof ingelig dat as sy as voog aangestel word, sal sy vir ’n Sassa-toelaag kwalifiseer.”
Hammers, Jantjies en Adams se borgtog-verhoor gaan môre (Woensdag 27 Oktober) in die Strand-landdroshof voort.


