Francois Boyce, wat bekendheid verwerf het met sy sosialemediaplatform en handelsmerk, Hoezit Samelewing, en met nagenoeg 80 000 volgelinge spog, het ’n debuut-treffer vrygestel.
“Meisie van Fraserburg” is ’n voetjeuklekker Afrikaanse sokkietreffer wat hy saam met Landru Ehlers van die groep Wolwe-Dans geskryf het.
“As musikant is dit ’n voorreg om jou storie in liedjieformaat te kan vertel, veral as dit gaan oor die een mens wat jou lewe kom verander het.”
Om nog meer betekenis aan dié besonderse snit te gee, deel hy dat hy binnekort die knoop gaan deurhaak.
“Ek kan nie wag om ’n leeftyd saam met Amoré deur te bring nie. Ons droom al klaar daarvan om drie kinders te hê, en die name is klaar uitgekies, mits hulle natuurlik uitkom soos wat ons gedroom het.”
Francois het in ’n musikale huis in Jan Kempdorp grootgeword en speel al klavier vandat hy vyf jaar oud is. Hy was in graad 10 toe hy met formele sangopleiding begin het en optredes en voorvertonings vir bekendes te doen.
Hy het in 2009 by gesellighede en feeste begin optree en selfs sy lyf seremoniemeester begin hou, en dit was vir hom heerlik om sy passie en talent uit te leef.
Gedurende die inperking wou Francois graag aanhou om mense te vermaak, en hy het begin om lawwe video’s op sy persoonlike Facebook-blad te deel. Dit het soveel aftrek gekry dat hy besluit het om Hoezit Samelewing te begin, en “die res is geskiedenis”.
“Hierdie platform is ’n plek waar mense saam kan lag, ontspan en geïnspireer word deur wyshede van die wêreld en die mense daarin,” verduidelik hy. “Elke video wat ek plaas, word deeglik beplan en ek het ’n ongelooflike span saam met wie ek werk en wat help beplan en droom. Humor het die vermoë om die angel uit iets wat jou kwaad of gespanne maak, te haal. As jy dit reg gebruik, kan jy iemand help om iets te besef, te leer en te verander. Ek wil my beste gee om hierdie wêreld ’n beter plek te maak. Ek is nie ’n politikus, ’n dokter of die een of ander ingenieur nie, maar ek het ’n talent en ek glo ek het ’n verantwoordelikheid om dit te gebruik.”
Wanneer hy nie op die verhoog is nie, hou hy hom besig met die uitbreiding van sy handelsmerk en werk hy aan nog musiek en ander opwindende projekte.




