Die brandslagoffers Ryan van Deventer, Anthea October en Marius Titus staar in ongeloof na die oorblyfsels van hul tuiste, wat in ’n verwoestende brand vernietig is. October se bejaarde pa, Herman Titus, is van ’n vlammedood gered en sterk in die hospitaal aan.Foto: Jamey Gordon


“Ons kon dood gewees het, maar die Here was met ons.”

Dit was die hartroerende woorde van Anthea October nadat sy en haar huisgesin van ’n vlammehel, wat hul familietuiste in puin gelê het, ontsnap het.

Die voorval het verlede Donderdag (21 April) kort ná middernag by Kerkstraat 16 in Somerset-Wes ontstaan en die erfenisryke woning wat op sendingterrein in die gemeenskap geleë is, verswelg. October se bejaarde pa, Herman Titus, wat in die brandende huis vasgekeer was, is deur brandbestryders gered en met brandwonde in die hospitaal opgeneem.

’n Emosionele October het Maandag aan DistriksPos gesê sy, haar 87-jarige pa, haar 59-jarige broer Marius Titus en haar kêrel, Ryan van Deventer, was tuis toe die brand uitgebreek het. Haar 21-jarige dogter, Althea, wat ook saam met hulle woon, het dié aand in Macassar oornag.

Die 54-jarige ma van twee onthou hulle het beangs wakker geskrik toe haar pa om hulp geroep het.

“Ek het onmiddellik opgespring en saam met Marius, wat uit sy slaapkamer aangekom het, ingehardloop. Nie een van ons twee kon weens die rook en vlamme verder as die kombuis vorder nie. Ryan het wel daarin geslaag om by my pa se slaapkamer aan die voorkant van die huis uit te kom. Hy het hom ingehaak en gesê ‘kom, ons moet uit’.

“My pa het daarop aangedring om terug te draai vir sy ID-boekie en losgeruk,” het October vertel.

Volgens Van Deventer het hy deur die agterdeur gevlug en die man wat in hul agterplaas woon, te hulp gesnel. Hierna het hy die voordeur afgeskop in die hoop om die ander te red, maar dit was tevergeefs aangesien die vlamme te hoog was. “Ek het na die slaapkamervenster gehardloop en dit uitgeslaan om by hulle uit te kom,” het Van Deventer vertel.

Volgens October het Van Deventer tot haar en haar broer se redding gekom. “Ek het my hande bymekaargesit en in ’n skietgebed aan die Here gesê ‘ek weier om vanaand hier te sterf’. Ek het my hande na Ryan uitgesteek, wat my wonderbaarlik by die klein kamervenster uitgehelp het terwyl Marius my opgelig het,” het sy vertel.

Van Deventer het hulle albei wonderbaarlik deur die venster getrek en na veiligheid gehelp.

October het verder herroep toe almal buite was, het hulle eers besef haar pa is steeds in die brandende huis.

“Ons wou terughardloop, maar brandweermanne wat reeds op die toneel was, het ons gekeer om terug in die huis te gaan.”

Marcus Gordon, October se oom en die eienaar van die huis, het geslaap toe Vrydagoggend 00:10 wakker gebel is en oor die huisbrand ingelig is.

“Ek het dadelik aangetrek en Somerset-Wes toe gejaag, waar my hart tot in my skoene gesak het toe ek met my aankoms vier brandweerwaens op die toneel aangetref het,” het Gordon gesê.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, het bevestig hulle het om 00:11 op ’n noodoproep van ’n huis wat in Kerkstraat brand, gereageer.

Brandweerspanne van Somerset-Wes, Strand, Sir Lowry’s Pass en Milnerton is met drie brandweerwaens, ’n watertenker en ’n reddingsvoertuig ontbied.

“Die brandbestryders Renaldo Duncan en Joswin Lameyer het die brandende gebou ingegaan en ’n bejaarde man in die kombuis, waar hy onder die tafel geskuil het, gekry,” het Carelse gesê.

“Hulle het daarin geslaag om hom uit die huis te red en buite na veiligheid te bring. Hy is vir brandwonde en rookinaseming deur paramedici behandel en na die hospitaal vervoer.”

V

Vervolg op bladsy 2.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article