Twee broers wat aangekla word van die beweerde verkragting van ‘n negejarige meisie het verlede Woensdag (27 Augustus) hul borgtogaansoeke vir die tweede keer in die Strand-landdroshof laat vaar.
Die broers het eers hul borgtogaansoeke op 6 Mei laat vaar nadat hulle van die beweerde verkragting van die minderjarige aangekla is. Hulle is op 7 April deur die Strand-polisie in verband met beweerde verkragting oor vier maande tussen Desember 2024 en April 2025 in hegtenis geneem (“Broers laat vaar borgtogaansoek“, DistrikPos & Helderberg Gazette, 14 Mei).


Tussen Mei en Augustus het hulle die hof in kennis gestel dat hulle weer om borgtog sou aansoek doen, maar ‘n omstrede hofsitting het alles verander.
Volgens teenwoordiges in die hof het die broers se advokaat tydens die borgtogaansoek op Dinsdag 19 Augustus beswaar gemaak toe die ondersoekbeampte mediese getuienis voorgelê het.
Mense beweer hy het voorgestel die negejarige kon seksuele kontak met iemand anders gehad het of die beserings aan haarself veroorsaak het.
Dít het glo die beweerde slagoffer se ma op haar voete laat spring en die landdros moes die regsman herinner dat hy oor ‘n negejarige praat.
“Sy is tog net nege jaar oud!” het Lisa Visser van die Leadership Network opgemerk.

Volgens Visser het die prokureur verder gesê dat minderjariges as gevolg van sosiale media “nie meer dieselfde is nie”.
Lede van die Vroue in Aksie- beweging en die Leadership Network – plaaslike organisasies wat slagoffers van seksuele geweld ondersteun – het die vermelde verdedigingstrategie as slagofferverwyting veroordeel.

“Die saak het reeds openbare aandag getrek. Nou sal sy opmerkings mense nog meer aan haar laat twyfel,” sê Visser. “Ons wil hê hy moet ‘n openbare verskoning maak.”
Ná hierdie kritiek het DistriksPos & Helderberg Gazette die verdedigingsadvokaat se regsfirma genader vir kommentaar oor die beweerde omstrede uitsprake, maar die firma het verkies om geen kommentaar op die bewerings te lewer nie.
‘n Regskenner het egter wel gereageer. Demi Johannisen, ‘n prokureur by die Universiteit Stellenbosch se regskliniek, wat in familiereg en kinderhof-aangeleenthede spesialiseer, sê “die verdediging moet nooit taktiek gebruik wat verdere skade of ontsteltenis kan veroorsaak nie, aangesien dit as onvanpas beskou sal word”.
Johannisen, wat ook finalejaar-regstudente begelei en kandidaat-regspraktisyns mentor, het ervaring van sake waarby kinders betrek is.
Sy het verwys na die Suid-Afrikaanse Regspraktyk-gedragskode, wat vereis dat regspraktisyns getuies tydens kruisondervraging met waardigheid behandel en nie ongegronde bewerings maak sonder redelike verwagting van bewyse nie.
Johannisen waarsku dat verdedigingsargumente wat hier- die beginsels ignoreer, moontlik ‘n oortreding van die Wet op Regspraktyk kan daarstel en die regsprofessie in onguns kan bring.
Sy glo prokureurs moet eerder die getuie se gemak prioritiseer en gepaste kommunikasie gebruik – veral in sake wat kinders betrek.
Johannisen erken egter die hofstelsel moet kinderbeskerming en die beweerde oortreder se regte balanseer.
Met hierdie etiese vrae nog vars in die gedagte is die borgtogaansoeke ná die omstrede hofsitting tot Maandag 25 Augustus uitgestel, maar is nie aangehoor nie omdat die presiderende beampte siekteverlof geneem het.
Ten spyte van die uitstel het albei broers hul borgtogaansoeke vir die tweede keer laat vaar toe die saak Woensdag 27 Augustus weer in die hof gedraai het.
Die saak is toe tot Dinsdag 23 September uitgestel en sal in die Strand-streekhof aangehoor word.






You must be logged in to post a comment.