Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het onlangs ’n petisie opgestel wat aan die hoof van die Strand-landdroshof oorhandig is met ’n pleidooi dat na die borgtogvoorwaardes vir hoëprofiel-bendeleiers wat onlangs in verband met verskeie misdade vasgetrek is, gekyk word.
Tesame met die petisie gee die GPF en die Geestelike Misdaadvoorkomingsforum gereeld briewe by die hof in as teenstand teen sekere verdagtes se borgtog.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, bevestig dat ’n petisie wat vroeër vanjaar aan die hooflanddros, Veronica da Silva, oorhandig is, die belangrikheid beklemtoon van waarom noukeurig na die sake waarmee bendelede verbind word, gekyk moet word.
“Ons wil die gemeenskap van Strand bedank, want altesaam honderd mense het die petisie onderteken. ’n Paar prominente bendeleiers is agter tralies vir verskeie misdade wat gepleeg is.
“Daardie sake loop nog almal, maar ons het uitgereik na Da Silva en haar gevra om nie net na die verdagtes se borgtogvoorwaardes te kyk nie, maar ook na al hul vorige veroordelings,” sê Thysen.
Hy noem die petisie dui ook aan indien van die verdagtes borgtog kry, moet hulle in ander gebiede vrygelaat word en verbied word om toegang te verkry tot die gemeenskappe waar die misdade gepleeg is.
Die voorsitter en GPF-sekretaris pastoor Johannes Pick sê die briewe is geskryf en moet aan die hof oorhandig word om ’n verskil te maak.
“Ons het byvoorbeeld onlangs goeie vonnisse gekry vir vier sake waarin verskeie beskuldigdes in elke saak gevonnis is. Dus, met die briewe kon ons sover al 11 misdadigers van die strate af hou en hul borgtog is geweier.
“Dit is als te danke aan ’n brief met demands wat ons in Desember aan die hooflanddros oorhandig het,” verduidelik Pick.
Die briewe word soms deur die GPF en die Geestelike Misdaadvoorkomingsforum opgestel, en partykeer deur die gemeenskap wat hul pyn en smart en bekommernisse en motivering teen die verdagte se borgtog neerpen en aan die GPF en forum oorhandig om aksie te prioritiseer.
Binnekort sit beide die GPF en forum se verteenwoordigers met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en Da Silva om die tafel om die pad vorentoe te bespreek en om te kyk na al die verdagtes wie se en borgtog-verhore en hofsake binnekort voorkom.



