Amber de Wet (71) staan met ’n foto in haar hand van haar huis wat in 2011 tot die grond toe afgebrand het. Foto: Rick Marais


Gemeenskapslede van Helderzicht het ingespring en ’n jare lange inwoner se huis van ’n vlammehel gered nadat haar tuiste Donderdagaand 9 Februarie aan die brand geslaan het.

Inwoners van Februarystraat het Amber de Wet met ’n tuinslang asook emmers vol water te hulp gesnel en haar houthuis, wat sy weens ’n vorige brand in 2011 van die grond af herbou het, van verwoesting gespaar.

Die 71-jarige ma en grootouer het met die koerant se besoek vertel sy het ’n oproep van ’n mede-inwoner ontvang met die nuus dat haar plekkie deur vlamme verswelg word.

“Was dit nie vir Romandi Manus (Smith) se oproep nie, sou ek en my seun dalk nie vandag hier gewees het nie,” meen De Wet.

Beide De Wet en haar seun, Marius, was tuis toe die brand aan die agterkant van hul woning ontstaan het. Hy was glo vas aan die slaap en sy het net die televisie afgesit om in te sluimer toe Manus haar bel.

“Ons het dadelik my naaimasjiene en ander naaldwerktoerusting begin uitdra. Ons het toe water probeer tap om die brand te blus, maar net ’n klein stroompie water het uit die kraan geloop aangesien ons in daardie stadium redelik met ons watertoevoer gesukkel het.”

’n Buurman hier en ’n buurman daar het toe uit hul huise gekom en op De Wet se hulproepe gereageer.

“Toe ek weer sien, is die buurman aan my linkerkant besig om die brand, wat aan die agterkant van ons huis uitgebreek het, met water uit ’n tuinslang waarmee hy oor die muur geleun het, te bestry,” vertel die pensioentrekker.

Intussen het haar seun uitgehardloop en die stop-kraan voor by die huis gaan oopdraai om water in ’n emmer te kry om ook die vlamme te help blus.

Sy sê dit was ’n seëning dat haar seun nie in sy kamer was toe die brand op sy ergste was nie, want die groot venster in sy kamer het skielik weens die hitte in stukke gebars.

“Die brand het bo in die dak van my seun se kamer ontstaan en al die pad tot in my voorportaal, waar ek bedags werk, versprei.”

Iemand het ’n stoel voor die huis reggetrek vir De Wet om op te sit terwyl die bure die brand bestry het. “Ek kon nie stilsit nie. Ek was bang ek verloor nog ’n keer my huis,” voeg die ywerige naaldwerkster, wat dekades lank met haar passie vir naaldwerk en bobaas-vaardighede ’n inkomste van die huis af werf.

Die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste is kort nadat die brand uitgebreek het, gekontak, maar teen die tyd wat hulle opgedaag het om die vlamme te blus, het die gemeenskapslede reeds die meeste van die vlamme onder beheer gehad.

’n Woordvoerder van die brandweer, Jermaine Carelse, het bevestig brandweerspanne van Somerset-Wes en Strand is ná ’n noodoproep om 22:50 in twee brandweerwaens, ’n watertenkwa en ’n reddingsvoertuig na die toneel. “Die brand is teen 23:30 geblus. Die struktuur is gedeeltelik beskadig,” sê hy.

Volgens Carelse is geen beserings aangemeld nie en die oorsaak van die brand onbekend.

“Ons vermoed die elektriese bedrading het die brand veroorsaak, so het ons nou ná die brand al ons elektriese bedrading in pype geplaas, wat dit veiliger maak,” sê De Wet.

Sy het almal in Februarystraat bedank wat gehelp het om die brand by haar huis te blus. “Was dit nie vir die lede van gemeenskap se goedhartigheid en hulp nie, sou ek nie vandag ’n dak oor my kop gehad het of selfs nog asemgehaal het nie. Die gemeenskap en Romandi het ons lewens gered. Vir hulle sal ek ewig dankbaar wees,” voeg sy by.

Nog ’n brand het bykans weer Amber de Wet se houthuis in Helderzicht geëis. Danksy die waaksaamheid en vinnige optrede van bure is haar woning van die vlammehel, wat Donderdag 9 Februarie ontstaan het, gered. Die voorval volg nadat die 71-jarige se woning in 2011 deur ’n verwoestende brand in puin gelê is. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article