Portret van Moses Faviers, Oom Dicky, wat op 79 oorlede is in Macassar.
Moses Faviers is Maandagoggend in die ouderdom van 79 jaar dood.

Die Helderberg-gemeenskap is in rou gedompel oor die nuus van die heengaan van een sy welbekende inwoners.

Moses Faviers is Maandagoggend by sy huis in Macassar op die ouderdom van 79 dood. Faviers, ‘n boorling van Temperance Town, het in 1973 met sy gesin na Macassar verhuis.

Portret van Moses Faviers, Oom Dicky, wat op 79 oorlede is in Macassar.
Moses Faviers is Maandagoggend in die ouderdom van 79 jaar dood.

Oom Dicky, soos baie hom geken het, was ‘n kranige rugbyspeler in die sestig- en sewentigerjare en het as losskakel vir die Violets-rugbyklub in Temperance Town uitgedraf.

Liggaamsbou was eweneens ook een van sy vele passies. Faviers was sedert die laat sestigerjare ‘n werknemer van die Suid-Afrikaanse Parlement, waar hy as diensbeampte gedien het.

Hy word nostalgies onthou toe hy destyds deur prof. Jakes Gerwel gevra is om president Nelson Mandela na sy sitplek in die Parlement te begelei. Hierdie was vir die eerste sitting van die nuwe parlement ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Faviers het in die middel negentigs afgetree.

Die familie het in 1980 by die Calvyn Protestantse kerk in Macassar aangesluit, waar hy ook ‘n aantal termyne as ouderling gedien het.

Sy ruimhartigheid en liefde vir die kerk het teweeggebring dat hy destyds vele kosbare artikels aan sy geliefde kerk geskenk het – items wat vandag steeds in gebruik is.

Ds. Thomas Beukes, ‘n afgetrede leraar onder wie Faviers vir etlike termyne as ouderling gedien het, onthou hom as ‘n baie moedige mens wie se hart oop was vir kinders. “Hy het besonderse hoë standaarde vir sy kinders gestel en ‘n baie gebalanseerde lewe gelei.

“Hy was standvastig in sy geloof en het ‘n groot liefde vir die koninkryk van God hier op aarde gehad. Oom Dicky was ‘n ware staatmaker en altyd gewillig om ‘n bydrae tot die vooruitgang van die gemeente te lewer. Ons betreur sy heengaan, maar berus dit wat God gedoen het, is welgedaan,”

het Ds. Thomas Beukes hom onthou.

Heinrich Magerman, ‘n jare lange familievriend, het Faviers in herinnering gebring as ‘n anker en rolmodel van die Macassar- en Helderberg-gemeenskap.

“Sy voorbeeld as pa en gesinsman het ‘n onuitwisbare indruk op my gelaat. Oom Dicky se insig oor die Suid-Afrikaanse oorgang van die ou bedeling na die nuwe Suid-Afrika was fenomenaal. As werknemer van die Suid-Afrikaanse Parlement vir dekades, het hy eerstehandse ervaring gehad oor die velerlei aspekte van die parlementêre stelsel. Hierdie aspek is vasgevang in ‘n episode van die dokumentêre reeks, Ordinary People. Oom Dicky was baie patrioties en het geen doekies omgedraai betreffende aktuele sake nie. As kranige rugbyspeler was hy baie passievol oor rugby spesifiek en sport in die algemeen.”

Magerman het bygevoeg dat drie van die Faviers-seuns die parlementêre rugbyspan op talle geleenthede selfs internasionaal verteenwoordig het.

Ds. Benny Martin, die huidige leraar van die Calvynse kerk in Macassar, onthou Faviers as ‘n innemende, vriendelike mens.

“Oom Dicky was ‘n omgee-mens wat baie in die mensdom belanggestel het. Tydens my besoeke terwyl hy siek was, het ons lekker gesels. Hy was ‘n baie ‘diep’ mens en iemand met ‘n baie goeie algemene kennis. Ons kon gesels oor die Here, oor Godsdiens en selfs oor wêreldgebeure. Hy het ook ‘n intense belangstelling in politiek en sport gehad.

“Ander aspekte wat uitgestaan het, was dat Oom Dicky ‘n besonder beginselvaste en veral familievaste mens was en lief was vir sy God en sy kerk. Hoewel Oom Dicky siek was, sou hy altyd verneem na die welstand van mense in die kerk sowel as in die gemeenskap,”

Ds. Benny Martin

Faviers word oorleef deur sy vrou, Elsabe, ses kinders, 12 kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Die troosdiens vind vanaand (Woensdag 14 Mei) om 19:00 plaas. Die begrafnisdiens vind plaas op Saterdag (17 Mei) om 09:00. Albei dienste is by die Calvyn Protestantse kerk in Fahstraat, Macassar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article